Daniil ontspoor die Novak-wentrein

Daniil Medvedev (regs) het vir Novak Djokovic in die halfeindstryd van die Dubai Duty Free-tennistoernooi uitgeskakel. Foto: Twitter.

Daniil Medvedev het sy 13de wedstryd op ʼn streep gewen toe hy die toernooigunsteling Novak Djokovic in die halfeindstryd van die Duba Duty Free-tenniskampioenskap uitgeskakel het.

Die telling was 6-4 en 6-4 in die Russiese speler se guns.

Medvedev het slim tennis gespeel – hy het teruggehang om die Serwiër se suiwer balslaanvermoë te neutraliseer en hy doodeenvoudig net minder ongedwonge foute begaan (12 teen oor Djokovic se 38).

Volgens die Moskou-boorling kon hy vir eens weer op ʼn hoër vlak as sy gedugte teenstander speel – Djokovic het immers die vorige vier kragmetings tussen die twee sterre gewen.

“Wanneer ʼn mens teen Novak speel moet jy ongetwyfeld op jou heel beste wees. Terselfdertyd moet jy duimvashou dat hy nie ook op alle suiers vuur nie; want goeiste – 22 Grand Slam-titels sit nie in enigiemand se broek nie,” het Medvedev gesê.

Hy is nou op koers om sy derde ATP-titel op ʼn streep te wen nadat hy ook vroeër in Rotterdam en in Doha die septer geswaai het.

Die robotagtige presisie waarmee hy speel het vir Djokovic van stryk gebring en die wêreldnommereenspeler het gesukkel om met sy gewone ritme te speel.

Medvedev speel nou later vandag in die eindstryd teen sy landgenoot Andrey Rublev.

Rublev het vir ietwat van ’n opskudding gesorg toe hy vir die eerste keer in ses probeerslae met Alexander Zverev kon afreken. Die eindtelling was 6-3 en 7-6 in sy guns.

“Ek het aanvanlik gedink dat ons ’n derde stel sou moet speel, maar ek het laat in die valbylpot vir myself gesê dat ek die knoop kan deurhak. Ek kon daarin slaag om ’n wilde houereeks te wen; die intensiteit van die wedstryd was baie hoog,” het Rublev ná die afloop van die kragmeting gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.