Darem baie geld vir ’n paar tekke

Die legendariese Michael Jordan. Foto: Twitter.

As jy ooit op ’n paar ou Nike-tekkies by ’n tweedehandse klerewinkel afkom, koop dit onmiddellik: Dit mag dalk net een van Michael Jordan se ou pare wees en jy kan dit in die toekoms vir miljoene verkoop.

Jordan se wit-en-rooi Nike Air Ship-tekkies, wat hy in sy eerste seisoen by die Chicago Bulls in 1984 gedra het, is vir ’n rekordbedrag van $1,47 miljoen (amper R22 miljoen) by ’n veiling verkoop.

Sotheby’s, wat bekend is vir sy unieke kunsveilings, het ’n goudmyn met Jordan se tekkies ontdek. Nóg ’n paar van sy trappers is verlede jaar vir amper $600 000 verkoop.

Volgens Sotheby’s pryk Jordan se handtekening op sy Air Ship-tekkies, terwyl ’n mens darem ook kan sien dat hy dit ’n paar keer op die basketbal-baan gedra het.

Die basketbal-superster het ses kampioenskapstitels saam met die Bulls gewen en is een van die grootste sterre in die sport se geskiedenis.

Jordan se voete is nie ewe groot nie en sy regterskoengrootte is 13,5, teenoor sy linkerskoengrootte van 13.

Vroeër in die maand het Bonhams weer ’n paar van Muhammad Ali se kunswerke vir amper $1 miljoen opgeveil.

Een van die legendariese bokser se sketse, “Sting Like a Bee”, is vir $425 312 verkoop nadat afslaers verwag het dat die hamer vir oulaas op $60 000 sou slaan.

Die kunswerk sluit ook een van sy gedigte in: “Ref! he did float like a butterfly and sting like a bee! Yes, if you were smart you run like me!”

Volgens Bonhams het Ali regdeur sy lewe ’n liefde vir kuns gehad en hy het selfs lesse geneem. Die wêreldbekende sportster het gereeld prente geteken wat boksgevegte, menseregtekwessies en wêreldvrede uitbeeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter9 ·

Ek vat nie aan daai Ou se tekkies vir geld nie; wereld-gekke verdien mekaar.

Niklaas ·

Nou wat gaan daai trotse nuwe Tekkie eienaar doen daarmee, verbrons? Uitstal op die vuurherd?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.