Diamant-uitdaag: SA spanne wen albei

Suid-Afrika se netbalspan, die Proteas, teen Zimbabwe (Foto: Netball South Africa, Facebook)

Suid-Afrika se netbalspan, die Proteas, teen Zimbabwe (Foto: Netball South Africa, Facebook)

Suid-Afrika se twee verteenwoordigende spanne, die Proteas en die Presidentspan, het Sondag albei hulle netbalwedstryde in die eerste ronde van die Diamant-uitdaagtoernooi by die Westville-kampus van die UKZN net buite Durban gewen.

Die openingswedstryd tussen Uganda en die Presidentspan was uiters mededingend. Na die eerste kwart was die Presidentspan met vyf doele voor en toe die eindfluitjie blaas het hulle die wedstryd met dieselfde punteverskil van vyf doele, 55-50 gewen. Daar was in die derde kwart in een stadium net ʼn enkele doel tussen twee spanne.

Uganda se doelskieters was baie akkuraat, maar het minder balbesit gehad. Die wedstryd was baie fisiek en veral Uganda is dikwels vir kontak en obstruksie gestraf.

Uganda is elfde op die wêreldranglys en die oorwinning deur wat as Suid-Afrika se naasbestes beskou kan word, is ʼn pluimpie vir die land se netbaldiepte.

♦ Suid Afrika se Proteas, vyfde op die wêreldranglys, het ʼn veel makliker wedstryd teen Zimbabwe gehad.
Die eindtelling was 70-35 teen die 21ste gekeurde besoekers.
Die Proteas het die moedige Zimbabwiese span op alle vlakke oorheers en hulle het die buurland veral met hulle spoed en akkuraatheid oorrompel.
Zimbabwe is, soos Uganda, ook dikwels vir obstruksie en kontak gestraf en die span se gebrek aan internasionale kompetisie was duidelik waarneembaar.
♦ Die tweede ronde van die toernooi word Maandagmiddag, weer by die Westville-kampus, gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.