Die Alcaraz-tennistrein tel weer spoed op

Carlos Alcaraz in aksie in Buenos Aires. Foto: Twitter.

Carlos Alcaraz het vir die halfeindstryd van die Argentynse Ope gekwalifiseer toe hy Dusan Lajovic met 6-4 en 6-2 in Buenos Aires geklop het.

Dit is die 19-jarige Spanjaard se eerste toernooi terug op die baan nadat hy verlede jaar ʼn maagspierbesering tydens die Parys-meesterstoernooi opgedoen het.

“Ek is tevrede met my vertoning. Ek glo dat ek goed gespeel het – van die eerste afslaan tot die laaste punt van die wedstryd. Tog het Dusan dinge nie te maklik gemaak nie; hy is ʼn baie goeie speler,” het Alcaraz ná afloop van die tweestryd gesê.

Hy het in die aanloop tot die aksie in Buenos Aires gesê dat hy so gou moontlik weer op alle suiers wil vuur.

“Dit is vier maande sedert ek die besering opgedoen het. Oudergewoonte dink ek nie net daaraan om wedstryde te wen nie, maar ook om hulle góéd te wen. Ek is egter deeglik bewus daarvan dat dit glad nie ʼn maklike storie sal wees nie; veral nadat ek so lank op die krukkelys was.”

Tog is hy goed op koers om vir die eindstryd van die ATP250-toernooi te kwalifiseer. Hy speel in die halfeindstryd teen sy landgenoot Bernabe Zapata Miralles.

Die Brit Cameron Norrie, wat in Johannesburg gebore is, speel in die ander halfeindstryd teen Juan Pablo Varillas.

Uitslae:

Carlos Alcaraz klop Dusan Lajovic met 6-4 en 6-2

Bernabe Zapata Miralles klop Francisco Cernudolo met 6-3, 6-7 en 6-3

Juan Pablo Varillas klop Lorenzo Musetti met 6-4 en 6-4

Cameron Norrie klop Tomas Etcheverry met 5-7, 6-0 en 6-3

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.