Die horlosie staan nie eens vir Federer stil

Roger Federer. Foto: Martin Bureau/AFP.

Switserland se Roger Federer het gister ’n verrassende nederlaag gely toe hy deur die 20-jarige Felix Auger-Aliassime in die Noventi-ope in Duitsland uitgeskakel is.

Die jong Kanadees het die wedstryd met 4-6, 6-3 en 6-2 gewen om die 39-jarige tennislegende vir die eerste keer in 18 probeerslae uit die toernooi se kwarteindronde te hou. En boonop word hierdie kragmetings op grasbane beslis.

Federer het vanjaar se terugkeer gemaak nadat twee knieoperasies hom verlede jaar langs die baan gehou het. Hy het juis ná sy wedstryd teen Dominik Koepfer besluit om hom aan die Franse Ope te onttrek om sy lyf ’n blaaskans vóór Wimbledon te gee  – ’n besluit wat iemand soos Patrick McEnroe warm onder die kraag gemaak het.

“Roger kan nie verwag dat hy maklike wedstryde by die Franse Ope gaan hê nie – hulle sal ’n tol op enigiemand se liggaam eis. Baie mense sê hy is Roger Federer en hy kan maak wat hy wil; maar ek hou steeds nie daarvan nie,” het die jonger McEnroe-broer gesê.

En nadat Federer gister – teen ’n speler amper 20 jaar sy junior vasgeval het – lyk sy Wimbledon-kanse ook nie te watwonders nie.

“Dit is ’n massiewe uitdaging om weer ná die operasies te speel; dinge is nie maklik nie. Baie goed maal deur jou gedagtes: Gaan jou knieë hou, hoe gaan jy later voel, kan ek daardie spesifieke hou met gemak speel?” het Federer ná die afloop van sy jongste wedstryd gesê.

“Die hele rehabilitasieproses het my nie veel gepla nie. Ek kon tyd saam met my gesin deurbring en dit is altyd iets om voor dankbaar te wees. Dit is egter wanneer jy terug op die baan is waar die negatiewe gedagtes begin insluip. ’n Mens is nog honger vir sukses, maar jy is teleurgesteld oor ’n hou of die uitslag van ’n wedstryd.”

Wanneer Wimbledon op 28 Junie begin sal Federer poog om sy negende titel op sy gunsteling-baan in te oes.

Soos wat McEnroe tereg gesê het: Hy is Roger Federer, maar ongelukkig staan die horlosie vir niemand stil nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.