Die Olimpiese vlam brand warm vir Kaylene

Kaylene Corbett. Foto: Verskaf.

Die 21-jarige Kaylene Corbett swem al vir 13 jaar van haar lewe, maar 2021 beloof om een van die spesiaalste jare nóg in haar jong loopbaan te wees.

Hoewel die Olimpiese Spele vanjaar weens die wêreldwye Covid-19-pandemie afgelas is en al twyfel sommige kenners of alles gereed sal wees om die skouspel wel volgende jaar in Tokio aan te bied, brand die Olimpiese vlam warm in haar hart.

“Ek droom al my hele lewe daarvan om my land by die Olimpiese Spele te verteenwoordig en ek kan ongetwyfeld sê dat ek nog nooit so opgewonde was nie!” het sy aan Maroela Media gesê.

Tydens verlede jaar se Wêreld Studente Spele in Italië het Corbett op drie verskillende geleenthede vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer.

Boonop het haar tye ook byna met elke byeenkoms gedurende die afgelope jaar verbeter

Sy het die 2019-seisoen met ’n persoonlike beste tyd van 2:27.90 minute in die 200 m-borsslagitem afgeskop. Kort voor lank was haar beste tyd ’n spoggerige 2:24.18 minute; die Olimpiese kwalifiserende tyd is ’n skilpad-stadige 2:25.52 minute.

Gedurende die Wêreldbyeenkoms in Suid-Korea het sy saam met Tatjana Schoenmaker in die finaal van die 200 m-borsslagitem aangetree.

Schoenmaker het die silwer medalje ingepalm, maar Corbett kan net so trots op haar indrukwekkende prestasie wees.

Foto: Verskaf.

“Ná die tyd was dit ongelooflik toe ons besef het wat ons bereik het. Tatjana was die eerste Suid-Afrikaanse vroueswemmer om ’n medalje by die Wêreldkampioenskap in te palm en ek was die agtste beste ter wêreld. Die vreugdetrane het behoorlik gerol!”

Die afsonderingstydperk het ook ’n rol in die voorbereidingswerk van Suid-Afrika se voorste swemmers gehad – Corbett het normaalweg nege swembadsessies per week, terwyl sy dan ook tussendeur twee keer in die gimnasium sweet.

“Ons was verlede week weer in die swembad en, goeiste, dit was lekker om terug te wees ná maande uit die water!”

Hoewel sukses op ’n jong ouderdom dikwels ’n negatiewe invloed op atlete kan hê, bly Corbett se voete vierkantig op die aarde: Vir haar is godsdiens en familie die boustene van haar lewe.

“My geloof het my gedra deur tye waar ek self nie gedink het ek sal deurkom nie, terwyl my ouers en familie daar vir my was toe ek net die droom gehad het. Glo my, my familie se knieë is al deurgebid.”

Die Olimpiese droom is tans die pot goud aan die einde van die reënboog, maar Corbett wil nie noodwendig hê dat haar prestasies op die groot verhoog haar as persoon moet definieer nie.

“Ek wil graag hê dat mense my moet onthou as die meisie wat nooit tou opgegooi het nie en wat te danke aan God se genade haar droom kon uitleef.”

En hierdie uitkyk sorg juis vir ’n goue medalje op die grootste verhoog van almal: Die lewe.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae