Die verskillende gimnasium-besoekers

gimnasium-gewigte-tekkies-oefen

Die karakters in die gimnasium. Foto: Victor Freitas/Pexels.com

Dit kan soms intimiderend wees om vir die eerste keer ’n gimnasium se deur oop te stoot. Dit is immers ’n wêreld van yster, sweet, spiere, stywe broekies en mense wat vir absoluut geen rede skree nie.

Hier volg ’n kort opsomming van die verskillende mense wat jy in die deursnit-gimnasium kan teëkom:

  • Die persone wat net dankbaar is om daar te wees:

Die drome van ’n plat maag en prominente kuite is lankal iets van die verlede en hulle is waarskynlik net daar om op ’n Saterdagmiddag die rugbyhoogtepunte op die televisiestelle naby die trapmeule te kyk – in dié stadium van die geveg is ’n gimnasiumkontrak goedkoper as om DStv te hê.

Hulle is nie juis veel gepla oor hoe hulle lyk nie, maar tog het hulle iewers gelees dat ’n gesonde liggaam ’n gesonde gees huisves. Eintlik hoop en bid hulle dat hul vroue net sal raaksien dat hul pense met ’n kwart sentimeter gekrimp het; ʼn mens wil ook immers ’n goeie huis vir daardie gees hê.

  • Die lui fikse persone:

Gewoonlik oefen hierdie gimnasium-besoekers kliphard vir volgende jaar se Comrades-marathon, die Ironman of sommer net vir die plaaslike kerk se pretdraf. Hulle is superfiks en kan op die trapmeul teen ’n vreesaanjaende spoed hardloop terwyl hulle gereeld water uit hul USN-waterbottels drink.

Maar hulle is te lui om ver van die gimnasium se ingang te parkeer en soek normaalweg parkering op die gimnasium se voorstoep.

Wat help dit jy hardloop agt kilometer op die trapmeul, maar jy is nie bereid om 40 meter van jou kar na die gimnasium te stap nie?

  • Die mense wat daar is om liefde te kry:

Wie wil Tinder as jy by die gimnasium kan skinder?

In hierdie kategorie kry jy die ooms en tannies wat vir meer as net hul eie spiere in die spieël kyk. Hulle klere sit styf en hul spiere (en soms ander dele van hul anatomie) bult groot.

Wanneer hulle die gewigte optel, doen hulle dit as’t ware in stadige-kyk-weer-aksie, terwyl die reuk van AXE/Hoity Toity-spuitgoed swaar in die lug hang.

Hulle is vir twee uur in die gimnasium, maar oefen net vir 20 minute.

  • Die sterk kinders:

Goeiste, toe ek 15 jaar oud was, het ek meer soos ’n 10 000 m-atleet gelyk. Daarteenoor lyk deesdae se tieners meer soos professionele rofstoeiers (of dan waterpolo-spelers) en hulle was waarskynlik besig om opstote te doen toe hulle nog net ’n glinster in hul pa’s se oë was.

Ek vermoed dat wiskunde onder hoërskoolleerders elke jaar verbeter – ʼn mens is soms verstom oor die aantal kere wat hulle ’n gewig kan optel. Die repetisies word gewoonlik kliphard uitgebulder, en hul telwerk is normaalweg heel akkuraat.

  • Die gróót ooms:

Hulle is daar met hul hoodies en vroueklitsers (maak-my-sterk-lyk-hempies/wife-beaters) waarop daar een of ander inspirerende gimnasium-slagspreuk pryk. Uitdrukkings soos “Train insane or remain the same”, “No Pain, No Gain” of “Gaan swaar, Pappa is amper klaar”, is meer volop as taxi’s op ’n Gautengse hoofweg op hul Instagram- en Facebook-profiele.

Hulle is sterk, maar ʼn mens vermoed dat hulle gereeld ’n sopie walrus-hormone saam met hulle pre-, intra- en post-workouts inneem.

Jy kry hulle gewoonlik in die swaargewigtekategorie, waar hulle by tye 160 kg probeer bench press. Die res van die tyd is hulle op hul fone, tien-teen-een besig om ’n ontmoeting by die nagklub te reël.

  • Die mense wat aanvanklik net dankbaar was om daar te wees, maar skielik het hulle spiere gekry:

Hoera! Die IT-spesialis het kuite én bo-arms gekry! Skielik word die lang sweetpakbroek met ’n styfpassende kortbroek vervang.

Spier-selfvertroue is tydelik, klas is permanent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Poot ·

Eks al vir jare ñ gym junky maar het lanklaas so lekker gelag. Puik geskryf.

Peet ·

Man, ek het jou skrywe vreeslik geniet! Ek kom nooit in die gym nie, maar gaan nou moeite doen – al is dit dan nou net om al die verkillende tipes te gaan identifiseer…!

HAB ·

Ha haaa.
Moet nogals se by die klub waar ek oefen
Is daar nogals ‘n goeie standaard en die meeste lede oefen darm, maar mens kry maar die snaakse karakters ook.

AB ·

Hahahaaaaa! Ek en my vrou het nou lekker gelag! Daar regtig sulke mense by ons gym!!

Expat ·

Ek is al in my vyftigs maar mors nie my tyd en geld in `n gimnasium nie. Daar is te veel lekker goed om buite te doen en sommer fiks te bly, gratis.
PS – my browns van 1986 pas nog heeltyd!

dvl ·

Lekker gelag. Maar daar is die vierde kategorie ook, die van ons wat dit doen want dis lekker en jy wil gesond wees en jou liggaam verander maar is nie daar om vir ander goed te lyk, of af te show nie of ander uit te kyk nie, dra nie help my fris lyk hempies en spandex broekies nie – nee wat Tshirt en PT broek is reg – of die walrus hormone nie maar is net so ernstig oor die ysters optel. Hang ook af of jy by kommersiele gym of gym is waar mense ernstig is oor wat hulle doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.