Dinge moet reg loop vir Verstappen

Max Verstappen. Foto: Tolga Bozoglu/AFP.

Red Bull se Max Verstappen het verlede jaar twee wedrenne gewen. Maar as hy werklik ’n stok in Lewis Hamilton se Mercedes-wiel wil steek, sal hy meer dikwels op die podium moet wees.

Só se die Nederlandse renjaer Giedo van der Garde.

“Kyk, dinge het verlede jaar ’n bietjie vervelig begin raak toe Lewis die heeltyd met die louere weggestap het. Ek hoop van harte dat Max nou taaier weerstand sal kan bied.”

Red Bull het onlangs sy nuwe renmotor bekend gestel, maar Van der Garde is nie baie opgewonde oor die nuwe weergawe nie.

“Dit lyk maar so ’n bietjie na die vorige een, nie waar nie?” het hy geskerts.

“Almal sing altyd dieselfde deuntjie met hierdie bekendstellings in ’n poging om ’n bietjie mediadekking te kry. Maar ek wed julle met die eerste toetslopie in Bahrein gaan die motor weer anders lyk.”

Honda het met ’n splinternuwe enjin vorendag gekom in ’n poging om die sport op ’n hoë noot vaarwel te roep.

“Kom ons hoop hulle het ’n enjin aanmekaar geslaan wat gladder hardloop, vinniger versnel en meer betroubaar is. As hulle ’n regmerkie langs al daardie boksies kan maak, voorspel ek ’n goeie tweestryd met Mercedes.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.