Dis Anderson teen Djokovic op Wimbledon

Kevin Anderson en Novak Djokovic.
Foto: Oli Scarff/AFP.

Kevin Anderson het in 2018 van die beste tennis van sy loopbaan op Wimbledon se grasbane gespeel. Hy het in twee epiese uitklopwedstryde met Roger Federer en met John Isner afgereken, terwyl hy vriend en vyand met sy durf in die eindstryd teen Novak Djokovic beïndruk het.

Maar ’n rits beserings het die Suid-Afrikaner se vordering op die tennisbaan gekniehalter en op die vooraand van sy Wimbledon-herontmoeting met die Serwiër – dié keer in die tweede ronde – is Djokovic by verre die gunsteling om die wedstryd te wen.

Die 35-jarige speler is tans 100ste op die ATP-ranglys, terwyl Djokovic die rekord verbeter het vir die meeste weke as die wêreld se voorste tennisspeler. O ja, hy het ook die silwerware by die Australiese Ope én Franse Ope omhoog gehou.

Daarbenewens is die Serwiër onoorwonne in sy laaste 15 Grand Slam-wedstryde, terwyl hy ook ’n hele paar agtereenvolgende wedstryde op Wimbledon gewen het.

Hy het juis gister – nadat hy die eerste stel verloor het – die vloer met die jong Britse speler Jack Draper gevee om uiteindelik met 4-6, 6-1, 6-2 en 6-2 te wen.

Tog hou Anderson daarvan om op Wimbledon te speel en sy blitsige afslane is ’n kragtige wapen op die grasbaan.

Kevin Anderson (Foto: Wimbledon, Twitter)

Hy het in sy openingswedstryd teen Marcelo Vera altesaam 41 kishoue afgevuur om met 6-7, 6-4, 6-4 en 7-6 te wen.

Hoewel hy tevrede kan voel met sy vertoning, weet hy dat hy op alle silinders sal moet vuur as hy enigsins ’n kans teen Djokovic wil staan.

Ja, afslane kan dalk vir die Serwiër hoofbrekens gee, maar die wêreld se voorste speler het genoeg pyle in sy tenniskoker om die Suid-Afrikaner te tem.

“Novak is ’n baie taai kalant, maar ek sien uit na die uitdaging. Selfvertroue is een van sy groot sterkpunte en baie kere het hy al ’n wedstryd gewen voordat hy eens op die baan gestap het. Ek weet wat dit verg om teen hom te speel en ek glo ook in my vermoëns,” het Anderson gesê.

Ten spyte van sy vele beseringsterugslae het hy nie daaraan gedink om sy raket vir oulaas weg te bêre nie.

“Ek het in my hart geweet dat die tyd nog nie reg was om dit te doen nie en wanneer daardie oomblik uiteindelik aanbreek, wil ek dit graag op my eie manier doen.”

Môre se Djokovic-stryd sal hoegenaamd nie maklik wees nie.

Die Serwiër het elkeen van hul kragmetings op Wimbledon gewen, terwyl hy in nege van hul vorige 11 tweestryde koning gekraai het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.