Dis Djokovic teen Nadal!

Foto: Martin Bureau en Christophe Archambault/AFP.

Dit is die “wêreld se beste” teen die “koning van klei” wanneer Novak Djokovic en Rafael Nadal mekaar môre in die halfeindstryd van die Franse Ope aanvat.

Nadal is ongetwyfeld die beter speler op kleibane – hy het vir Djokovic in verlede jaar se eindstryd op Roland Garros verrinneweer, terwyl hy ook meer onlangs in Rome met die louere weggestap het.

Maar Diego Schwartzman het gistermiddag gewys dat die Spanjaard nie die enigste pottebakker is wat met klei kan toor nie.

Rafael Nadal vier fees. Foto: Filippo Monteforte/AFP.

Hoewel Nadal die wedstryd toe eintlik heel maklik met 6-3, 4-6, 6-4 en 6-0 gewen het, het die klein Argentyn vuur met vuur beveg en veral in die tweede stel vir sy teenstander ore aangesit.

Schwartzman het met ’n paar ongelooflike houe vorendag gekom, maar hy kon die vinnige tempo van die spel nie volhou nie.

As daar egter iemand in wêreldtennis is wat die krane vir ’n hele paar stelle kan oophou, dan is dit Djokovic. Die Serwiër het juis gisteraand volgehoue druk op Italië se Matteo Berrettini toegepas om die wedstryd met 6-3, 6-2, 6-7 en 7-5 te beklink.

Hy is egter deeglik bewus van die feit dat Nadal ’n perd van ’n ander kleur is.

“Dit is soos geen ander wedstryd nie. Kom ons wees eerlik met mekaar: Dit is die grootste uitdaging van jou loopbaan om vir Nadal op sy gunstelingbaan van sy geliefde toernooi aan te vat,” het Djokovic gesê.

Novak Djokovic. Foto: Twitter.

Die twee supersterre van wêreldtennis het al 57 keer teen mekaar kragte gemeet en Djokovic het 29 van hierdie kragmetings gewen. Maar op Roland Garros kon hy nog net een keer in agt probeerslae die uitklophou teen Nadal plant.

“Wanneer ons teen mekaar speel, voel dinge net anders. Die atmosfeer is anders, die verwagting is anders en daar is ongetwyfeld meer spanning. Ek is bevoorreg om al so baie kere teen hom te kon speel.”

As Djokovic môre wen, wink ’n 19de Grand Slam-titel vir hom. As Nadal wen, sal hy die geskiedboeke weer eens herskryf met sy 14de titel op Roland Garros.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Moedeloos ·

Ek het gisteraand se wedstryd gekyk en ai as Berrettini nie so kop verloor het en stupid houe gespeel het nie, sou dit n ander storie gewees het. Dan sou Novak meer frustreerd gewees het as wat hy was. Het eintlik my resep vir hom verloor toe hy so teen die borde geskop het. Ek dink ook die feit dat die skare die stadion moes verlaat en hul amper vir 25 min moes ophou speel het groot invloed gehad in Berrettini se spel daarna. Ek hoop die semifinaal word nie so laat gespeel soos gisteraand se wedstryd nie.

Dirk Mostert ·

Daar skort iets met die lotingstelsel. Die twee topgekeurdes moes eers in die finaal kragte gemeet het, nie in die semi-finaal nie. Die wenner van die ander semi-finaal beland nou onverdiend in die finaal en is verseker van minstens die tweede prys.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.