Dis ʼn week vir rekords op Wimbledon

Roger Federe. Foto: AP Photo/Tim Ireland

Roger Federe. Foto: AP Photo/Tim Ireland

Elke dag of toernooi is seker op sy eie manier ʼn soort rekord of geskiedkundige gebeurtenis, maar op Woensdag en Donderdag is daar sommer ʼn hele paar hoogtepunte op Wimbledon.

Kom ons begin by Roger Federer. As hy Woensdagmiddag vir Kroasië se Marin Cilic klop, is hy vir die 11de keer in die Wimbledonse halfeindstryd – ʼn rekord.

Dit sal boonop vir Federer, wat reeds 306 wedstryde in Grand Slam-toernooie gewen het, ook ʼn verdere Wimbledonse rekord besorg. Dit sal hom naamlik met Jimmy Connors laat gelyktrek op 84 oorwinnings in wat as die wêreld se gesogste toernooi beskou word.

Serena Williams wat na die halfeindronde van die toernooi gevorder het, speel Donderdag teen Elena Vesnina in haar halfeindstryd.

Wen Williams dié wedstryd, het sy nog twee moontlike wedstryde in die toernooi oor en kan sy haar huidige rekord van 303 oorwinnings in Grand Slams na 306 opstoot – gelyk aan die meeste deur ʼn vrou, Martina Navratilova, wat op 306 staan.

En wie weet, as Federer nie vir Cilic klop nie, is Williams dan saam met die Switser bo-aan die lys van spelers met die meeste Grand Slam-oorwinnings.

Venus en Serena Williams. foto: AP Photo/Kirsty Wigglesworth

Venus en Serena Williams. foto: AP Photo/Kirsty Wigglesworth

Maar daar is natuurlik, as ʼn mens met die syfers en rekords speel, die “ás Federer wen”-faktor en ook die (meer waarskynlike) “as” in Williams se geval.

Williams is op soek na haar 22ste Grand Slam-titel. Sy is nou gelyk met Steffi Graf op 21.

Sy is ook net een Wimbledonse titel agter Graf se sewe sedert tennis ʼn beroepsport geword het. Navratilova se nege titels lyk egter vir nou taamlik veilig.

Williams en haar suster Venus speel vanjaar die eerste keer sedert 2009 albei in die halfeindstryd. Venus is, ná Billie-Jean King in 1983 en Martina Navratilova in 1984, die oudste vrou wat die halfeindstryd op Wimbledon gehaal het. Sy is nou 36 – twee jaar ouer as haar suster Serena.

Die susters is op die randjie om hulle Wimbledon-eindstryde teen mekaar na vyf te vermeerder. Tussen die twee het hulle reeds 11 titels gewen – Serena ses keer, Venus vyf keer.

In die halfeindstryd speel Serena teen Rusland se 29-jarige Elena Vesnina, terwyl Venus teen Angelique Kerber van Duitsland beslis ʼn moeiliker taak het.

 

Dit is interessant dat die twee susters twee van vyf vroue van ouer as 30 in die laaste 16 was. Die ander, almal nou uitgeskakel, is Roberta Vinci, 33, van Italië, Australië se Samantha Stosur, 32, en die Rus Svetlana Kuznetsova, 31.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.