Dis Novak teen Andy in Madrid

Novak Djokovic en Andy Murray. Foto: Martin Bureau/AFP.

Hulle is nou wel al twee amper 35 jaar oud, terwyl nie een van hulle die beste aanloop tot 2022 gehad het nie, maar Novak Djokovic en Andy Murray is ongetwyfeld besig om hul voete op Europa se kleibane te vind.

Djokovic het gister vir Gael Monfils met 6-3 en 6-2 ore aangesit, terwyl Murray met Denis Shapovalov (6-1, 3-6 en 6-2) afgereken het.

Nou speel hulle môre in die volgende ronde van die Madrid-ope teen mekaar en die 34-jarige Brit sal sy bes doen om vir ’n opskudding te sorg.

“Op papier staan ek het nie ’n kans om die wedstryd te wen nie. Novak is die beste speler ter wêreld, terwyl ek met ’n metaalheup moet speel,” het Murray geskerts.

Sy vertoning teen Shapovalov – sy eerste oorwinning teen ’n topgekeurde speler vanjaar – het hom egter hoop gegee.

“Ek het die afgelope ruk deksels hard gewerk en begin al hoe beter op die baan rondbeweeg. Nodeloos om te sê, gee dit my meer vertroue – veral wat besluitneming betref.”

Djokovic sal egter hoegenaamd nie kanonvoer wees nie – hy beskryf juis die Monfils-wedstryd as sy beste vertoning van die jaar.

“Ek is baie tevrede met my spel, veral wanneer ’n mens in ag neem dat ek in die paar toernooie voor hierdie wedstryd glad nie goeie tennis gespeel het nie. Dit voel egter of ek nou ’n bietjie meer ritme het,” het die Serwiër gesê.

Hy het terselfdertyd ook Murray se lof besing.

“Andy is een van wêreldtennis se grootste name danksy sy Grand Slam-titels en goue medaljes. Dit is wonderlik dat hy nog ’n mededingende speler is – veral ná al sy beserings. Sy veggees en veerkragtigheid is ’n inspirasie vir baie ander spelers.”

Die twee sterre het al 36 keer teen mekaar gespeel; Djokovic was 25 keer aan die wenkant.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.