Dis SA se Kevin teen Federer in Wimbledon-kwarteind

Kevin Anderson. Foto: AP Photo/Michel Euler

Kevin Anderson het die eerste Suid-Afrikaner in 24 jaar geword om die kwarteindronde van Wimbledon te haal.

Anderson (32) het die Fransman Gaël Monfils met 7-6, 7-6, 5-7 en 7-6 gewen om sy plek in die kwarteindronde te verseker.

“Dit was ʼn wedstryd van hoë gehalte en ek moes diep grawe. Ek het al ʼn paar keer teen Gaël gespeel en dit is die eerste keer wat ek hom gewen het,” het Anderson ná die wedstryd gesê.

Wayne Ferreira was in 1994 die laaste Suid-Afrikaner om Wimbledon se kwarteindronde te haal. Die agtste gekeurde Anderson kom nou Woensdag in die kwarteindronde teen die Wimbledon-kampioen en eerste gekeurde Roger Federer van Switserland te staan.

Roger Federer. Foto: AP Photo/Alastair Grant.

“Dit is ʼn fantastiese geleentheid om teen die beste grasspeler van alle tye te speel. Ek sal nou fokus op my herstel en gereed maak om teen Roger te speel.”

Federer het die Fransman Adrian Mannarino met 6-0, 7-5 en 6-4 gewen om sy plek in die kwarteindronde te verseker.

Anderson het Norbert Gombos van Slowakye, die Italianer Andreas Seppi en die 25ste gekeurde, Philip Kohlschreiber van Duitsland, gewen om die kwarteindronde te haal.

“Dit is regtig ʼn fantastiese gevoel om my eerste kwarteindronde by Wimbledon te haal. Dankie aan almal vir die mooi boodskappe en ondersteuning. Ek is gereed om aan te hou met die harde werk en sien uit na die volgende een,” het Anderson gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Willem ·

My geld is op “Die Bok” en nie die “Kameelperd” nie. Kom ons hui duime.

A ·

Hy is nie regtig meer ‘n Suid Afrikaner nie. Hy bly in Amerika en is getroud met ‘n Amerikaner. Ek vermoed hy dink nie eens meer aan Suid Afrika nie.

Luke ·

@A, maar dan wen hy dan is jy die een wat die hardste juig en skreeu “proudly south african” ne? haha

Karl ·

Ek hou van Anderson, maar hier kom n 6-2, 6-3, 6-2 wen vir Fed. Soos n ware Saffa choke ons teen kompitisie.

Nettie ·

En Federer gaan wen ….. Die “bookies” praat – hard – en veral in tennis.

Wesley ·

Soos n ware sportman sal hy sy beste doen, maar soos enige sport, die beste speler sal heel moontlik wen, waar Federer in n klas van sy eie is. Gaan glad nie oor “choke” of diesmeer negatiewe dinge wat gese word nie. Al die beste vir Anderson, hy maak ons trots. Sal altyd vir hom skree.

Naas Vermaak ·

Presies Wesley, jy’s 100% reg en wie weet, dalk net, kom hier ‘n verassinkie…sal lekker wees. Kom ons staan almal agter Kevin en as dit kan regkry kan ons dit dalk net in ons eie mooi land ook probeer…

nico k ·

Baie trots op Anderson. Ek kan nie sien dat hy sommer Federer sal wen nie, maar ek staan agter hom.

A ·

@Luke,

Not by a long shot. Lankal nie meer proudly SA vir mense wat die land verlaat nie. Hy en Charlize (en die res) is nie meer deel van ons nie. Ek het vrede met hulle.

Ek staan bankvas agter Federer want hy is en bly ‘n gentleman wat nie skreeu en raket rondgooi nie.

Kokkie ·

Ek stem volkome saam, Luke. Federer is vir my die volkome rolmodel. Die ‘ultimate gentleman’ van die ‘game’!

Sulet ·

Daar is baie atlete en sportmense wat in Amerika bly en oefen, maar steeds hul tuislande verteenwoordig. Dis ongelukkig die realiteit, tennis is nie groot in Suid-Afrika nie. Tog besluit Anderson nog om Suid-Afrika te verteenwoordig.

Susan Maré ·

Tennis is een van die mees afgeskeepte sportsoorte in Suid-Afrika. Ek dink dit is omdat daar nie baie geld in die sport is nie – teenoor rugby en sokker – en daarom is borgskappe skaars. Kevin het goed gedoen om sy tennis eerder in Amerika te gaan beoefen. Sterkte aan hom, en mag die beste man wen. Ek skree vir Federer the Betterer omdat hy kragtennis wel kan neutraliseer as hy die dag op sy heel beste is met sy eiesoortige slim tennisstyl. Mozart versus die Rachmaninovs :) !

Jolanda ·

En daar wen hy toe wraggies! Mooi so Kevin, sien uit na die semifinaal!

Sulet ·

Oe! Ek het so lekker gekry toe Anderson wen! Aan al die doemprofete: bly maar volgende keer liewers tjoepstil.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.