Dis Thiem teen Medvedev in Londen-eindstryd

Dominic Thiem. Foto: Twitter.

As daar een ding is wat die ATP Finals-toernooi in Londen’n mens geleer het, is dit dat die toekoms van wêreldtennis oukei in die hande van jonger spelers sal wees.

Die 33-jarige Novak Djokovic en die 34-jarige Rafael Nadal, die twee voorste spelers op die ATP-ranglys, is gisteraand onderskeidelik deur ’n 27-jarige Oostenryker en ’n 24-jarige Rus in die halfeindstryde van die Finals-toernooi uitgeskakel.

Dominic Thiem het eerstens in ’n askiebelaaide stryd met Djokovic afgereken. Die eindtelling was 7-5, 6-7 en 7-6 in die Oostenryker se guns.

Toe is Nadal, op soek na sy eerste Finals-titel, deur Daniil Medvedev uitgeskakel. Die Parys Meesters-kampioen het die wedstryd met 3-6, 7-6 en 6-3 gewen.

Daar wag dus ’n watertand-eindstrydontmoeting tussen die valbyl-koning Thiem en die opwindende Medvedev op tennisliefhebbers.

Tog sê Thiem dat hy nog nie in dieselfde klas as Djokovic, Nadal en Roger Federer is nie.

Hy is egter slegs die tweede speler in die spel se geskiedenis wat al vyf of meer tweestryde teen die bogenoemde spelers gewen het.

“Ek is mal daaroor om teen hierdie legendes van die spel te speel. Om bloot net teen hulle kragte te meet is ’n groot voorreg en ’n wonderlike geleentheid om meer van die spel te leer. Wanneer jy hulle op ’n dag wen, is dit ’n massiewe selfvertroue-inspuiting,” het Thiem gesê.

Daniil Medvedev. Foto: Twitter.

Op sy beurt het Medvedev ’n agterstand van 3-6 en 4-5 uitgewis om Nadal in drie stelle te klop.

“Om Rafa te klop moet alles seepglad verloop. Van jou houe tot jou ingesteldheid op die baan – jy wéét dat hy vir elke punt sal baklei,” het Medvedev gesê.

Indien die jong Rus vanaand met die louere wegstap, sal hy die eerste speler in die toernooi se geskiedenis word wat met al drie top-gekeurde spelers afgereken het op pad na sy bekerglorie.

“Dominic is ’n ongelooflike speler. Ek dink daar lê ’n opwindende tenniswedstryd voor.”

Die aksie begin vanaand om 20:00 in Londen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae