Dis Tsitsipas teen Kyrgios op Wimbledon

Nick Kyrgios. Foto: Glyn Kirk/AFP.

Of jy nou ooghare vir hom het of nie, Nick Kyrgios sorg altyd vir lokettreffer-vermaak wanneer hy op ’n tennisbaan is.

Soms vir die regte redes – danksy sy kreatiewe houespel – maar grotendeels omdat hy net een afslaan weg van ’n uitbarsting is.

Die vurige Aussie het sy plek in die derde ronde van Wimbledon bespreek nadat hy maklik met Filip Krajinovic (6-2, 6-3 en 6-1) klaargespeel het.

Hy kom nou môre teen Stefanos Tsitsipas te staan nadat hy ook sy wedstryd in skoonstelle gewen het.

“Ek wil net mense daaraan herinner dat ek nogal ’n goeie speler is,” het Kyrgios ná die afloop van sy wedstryd gesê. Veral sy afslane was ’n krag om mee rekening te hou en hy het 24 kishoue afgevuur.

“Wimbledon is die toernooi waarna ek die meeste uitsien en dit is in rooi op my kalender omkring. Ek glo ek kan die beste in hierdie Grand Slam doen.”

Op sy beurt het Tsitsipas die toeskouers vir hul ondersteuning bedank.

“Dit was ’n baie goeie wedstryd en selfs al is ek nie ’n Brit nie, het die toeskouers my beslis gemotiveer om beter te speel.”

Tog sukkel hy teen Kyrgios. Die Aussie het drie van hul vier wedstryde gewen, terwyl hy ook in hul laaste ontmoeting op ’n grasbaan die septer geswaai het.

“Ek dink almal weet wie Nick is. Ek het respek vir sy spel en talent, terwyl hy altyd ’n gedugte teenstander op ’n grasbaan is,” het Tsitsipas gesê.

Topspelers soos Rafael Nadal en Iga Swiatek het ook hul plek in die volgende ronde bespreek.

Uitslae:

Alex de Minaur klop Jack Draper met 5-7, 7-6, 6-2 en 6-3

Rafael Nadal klop Ricardas Berankis met 6-4, 6-4, 4-6 en 6-3

Brandon Nakashima klop Denis Shapovalov met 6-2, 1-6, 6-1 en -6

Liam Broady klop Diego Schwartzman met 6-2, 4-6, 0-6, 7-6 en 6-1

Stefanos Tsitsipas klop Jordan Thompson met 6-2, 6-3 en 7-5

Nick Kyrgios klop Filip Krajinovic met 6-2, 6-3 en 6-1

Coco Gauff klop Mihaela Buzarnescu met 6-2 en 6-3

Simona Halep klop Kirsten Flipkens met 7-5 en 6-4

Iga Swiatek klop Lesley Kerkhove met 6-4, 4-6 en 6-3

Jessica Pegula klop Harriet Dart met 4-6, 6-3 en 6-1

Katie Boulter klop Karolina Pliskova met 3-6, 7-6 en 6-4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.