Dis weer Bottas en Hamilton!

Lewis Hamilton in aksie. (Foto: Andy Wong/AP Photo)

Daar is nog plek vir die goeie ouens in sport.

Valtteri Bottas (Mercedes), die beskeie Finse renjaer, het Sondag op die Baku-straatbaan in Azerbeidjan nie net die teleurstelling van verlede jaar se ren op die agtergrond geskuif nie, maar hy het ook as nuwe voorloper op die Formule Een-kampioenskapspuntelys by sy spanmaat, Lewis Hamilton, oorgeneem.

Bottas, wat in verlede jaar se ooreenstemmende ren van ʼn oorwinning in die 49ste rondte beroof is nadat sy motor ʼn lekband opgedoen het, het die wiel Sondag laat draai toe hy Hamilton geklop het.

Bottas se wentyd was 1:31:52.942 en hy het ʼn skrale 1,524 sekondes voor Hamilton klaargemaak.

Hamilton het hom teen die einde gejaag en probeer inhaal, maar hy het meesterlik bestuur en enduit voorgebly.

Sebastian Vettel (Ferrari) was derde, gevolg deur Max Verstappen (Red Bull), Charles Leclerc (Ferrari) en Sergio Perez (Racing Point).

Bottas (87 punte) is nou een punt voor Hamilton in die kampioenskap terwyl Mercedes (173 punte) sy voorsprong bo Ferrari (99) tot ʼn ongelooflike 74 punte ná net vier renne in vanjaar se reeks vergroot het.

Dit was ook die eerste keer dat Mercedes vier keer in ʼn ry eerste en tweede klaargemaak het, wat die kersie op die koek vir Mercedes geplaas het.

Plaas dit in perspektief: in 1992 was Nigel Mansell en Riccardo Patrese (albei Williams) ook eerste en tweede in die eerste drie renne, maar in die vierde ren in Spanje, wat Mansell gewen het, kon Patrese dit nie voltooi nie.

“Dit was ʼn strawwe ren. Lewis het deurentyd die druk op my laat oplaai en dus kon ek dit nie bekostig het om enige fout te begaan nie. Alles was onder beheer en ek was so bly om die geruite vlag te sien. Dit was maar net my vyfde sege en dit voel baie goed,” het Bottas sy sege op die podium aan die BBC opgesom.

Hamilton was lof vir Bottas en sy span. “Hy het fantasties bestuur en het verdien om te wen. Dis die beste begin wat ons nog gehad het,” het Hamilton verklaar. Daar was so baie vir Ferrari op die spel, veral omdat die motors soveel belofte in voorseisoense toetse getoon het. Afgesien van Vettel se derde en Leclerc se vyfde plek, het die span darem ʼn bietjie gekraai toe Leclerc in die voorlaaste rondte ʼn nuwe baanrekord opgestel het.

Maar hoe gaan Ferrari Mercedes se oorheersing in die kiem smoor, veral nadat die span Sondag die verkeerde bande-strategie gevolg het.

Daar sal diep gedelf moet word voor die volgende ren in Barcelona, het Vettel dit teleurgesteld opgesom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kiskar ·

Ai, dit lyk maar weer na ‘n vervelige F1 seisoen wat voorlê☹

Marius van Australie ·

Charles le Clerc is deur sy eie span beroof van ‘n wen. Ek kon nie my oe glo toe ek sien dat hy nie ingeroep word om die medium[geel] bande op te sit toe hy in ‘n stadium meer as 13sek voor Bottas was nie. Wat maak hulel toehy wel ingeroep word, maar heeltemal te laat – sit rooi[sagte band] op, nie een maal nie maar twee maal.

Die arme outjie het sy hart uitgery, hy het Vettel totaal oorskadu in haas elke aspek, en die vinnigste rondte tyd net voor die einde is ‘n skamele troos.

Nee Ferrari, julle het julself opgehang en slegs julself is verantwoordelik vir jul eie ondergang.

Net soos Richiardo, hoekom sal jy nou wil in tru-rat agteruit nadat jy die fout gemaak in ‘n teenstander wil vasry en dan hom en jouself afskryf en op die koop toe nog ‘n 3-plek wegspring diskwalifikasie kry vir die Spaanse GP?. Of moet ek skryf [???], want eerlikwaar dit was taamlik dom.

Vraagteken ·

Marius, ek dink nie jy ken die reëls van F1 nie.

Elke bestuurder moet twee verskillende bande op hulle motor sit tydens die wedren. As Ferrari die medium bande weer opgesit het, dan sou hy in elk geval weer die sagte bande moes opsit. Hulle het gehoop Charles sou genoeg spoed op die sagte bande hê teen die einde om weer terug te kom.

Elsa ·

Nou praat jy die waarheid. Ferrari ruil bande in die 2de laaste ronde en hoop vir n wen of n plek? Wat my bitter maak, is dat dit nie die eerste keer wat hierdie gruwelooslike foute gemaak word nie. Hul het geen strategies nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.