Dit is Djokovic teen Alcaraz in Parys

Novak Djokovic is deur na die halfeindstryd van die Franse Ope. (Foto: Julien de Rosa/AFP)

Die grootmeester teen die jong Turk.

Ja-nee, tennisliefhebbers kan hul vere regskud vir ʼn epiese tweestryd wanner Novak Djokovic en Carlos Alcaraz Vrydag in die halfeindstryd van die Franse Ope rakette kruis.

Die 36-jarige Djokovic moes ʼn aanvanklike vurige aanslag van Karen Khachanov in sy kwarteindstryd afweer, terwyl die veel jonger Alcaraz hopeloos te veel skietgoed vir Stefanos Tsitsipas gehad het.

Die twee spelers het nog net een keer vantevore kragte gemeet – óók op ʼn kleibaan en óók in ʼn halfeindstryd.

Alcaraz het verlede jaar na die eindstryd van die Madrid-ope deurgedring toe hy vir Djokovic met 6-7, 7-5 en 7-6 geklop het.

En as ʼn mens kyk hoe hy gister vir Tsitsipas op Roland-Garros oordonder het, sal die doemprofete net swarigheid vir Djokovic voorspel.

Tog kan die Serwiër se ongekende vermoë om druk te hanteer die skaal so ʼn bietjie in sy guns swaai.

Kyk net na sy vertoning teen Khachanov.

Djokovic het weliswaar die eerste stel verloor, maar soos wat die wedstryd vorder het hy al beter begin speel en kort voor lank moes die Russiese speler ʼn plaas op Moedverloorvlakte koop.

Wanneer ʼn wedstryd oor vyf stelle beslis word, staan die voormalige wêreldno. 1-speler altyd ʼn kans: Selfs al het sy teenstander die eerste twee stelle beklink.

Maar teen Alcaraz kan jy op jou beste wees, en steeds verloor.

“Dit is ʼn wedstryd waarna almal uitsien en ek kan ook nie wag nie. Wanneer jy die beste wil wees, moet jy die beste spelers kan klop. Novak is beslis nou een van die topspelers ter wêreld en ek is baie opgewonde,” het die die 20-jarige Spanjaard gesê.

Uitslae:

Carlos Alcaraz klop Stefanos Tsitsipas met 6-2, 6-1 en 7-6

Novak Djokovic klop Karen Khachanov met 4-6, 7-6, 6-2 en 6-4

Aryna Sabalenka klop Elina Svitolina met 6-4 en 6-4

Karolina Muchova klop Anastasia Pavlyuchenkova met 7-5 en 6-2

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Treurwilger ·

Voorspoed en báie sterkte, Novak!
Reeds die allerbeste van hierdie era maak nie saak wat gebeur verder nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.