Dit is Harris teen ‘geheime wapen’ in eindstryd

Lloyd Harris. Foto: Twitter.

Suid-Afrika se Lloyd Harris doen dinge in trappe van vergelyking: Eers Stan Wawrinka in Doha, toe Dominic Thiem in Dubai en nou sy eerste ATP500-eindstryd.

Die 24-jarige Suid-Afrikaner het gister vir die eindstryd gekwalifiseer toe hy die derde gekeurde Kanadese speler Denis Shapovalov met 6-7, 6-4 en 7-6 in die halfeindstryd van die Dubai-kampioenskap getroef het.

“Hierdie week speel ek die tipe tennis wat ek nog altyd wou speel, maar ek weet dat ek nog kan verbeter. Eintlik maak dit my baie opgewonde omdat ek weet dat ek kan verbeter, selfs wanneer ek baie lekker speel,” het Harris gesê.

Hy speel vandag in die eindstryd teen Rusland se Aslan Karatsev; ’n speler wat Daniil Medvedev al vantevore as die Russe se geheime wapen beskryf het.

Die 27-jarige Moskou-boorling het sy landgenoot, die hoogaangeskrewe Andrey Rublev, met 6-2, 4-6 en 6-4 geklop.

Harris is egter oorgehaal om die krane in die eindstryd oop te draai.

“Ek was onlangs in baie wedstryde in aksie, maar wanneer jy in ’n eindstryd speel, kry jy altyd ’n bietjie ekstra woema iewers vandaan. Ek gaan natuurlik my beste teen Aslan gee en hopelik kan ek selfs beter tennis speel.”

Karatsev is een van die sterkste spelers op die ATP-toer, maar Harris se vurige afslane maak van hom ’n baie gevaarlike teenstander.

Hy het reeds 71 kishoue in die toernooi afgevuur en sê dat die vinnige bane in Dubai van groot hulp is.

Harris het reeds die geskiedboeke herskryf deur die eerste kwalifiserende speler te word om in die Dubaise eindstryd te speel; dit is nou tyd om ’n verdere inskrywing te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.