‘Dit was my skuld,’ sê Lewis

Lewis Hamilton staan langs sy Mercedes-renmotor nadat hy kontak met spanmaat George Russell se vuurwa in Katar gemaak het. (Foto: Guiseppe Cacace/AFP)

Lewis Hamilton het Sondag kort ná die wegspring in Katar onsuksesvol probeer om twee vlieë met een klap by te dam.

Die sewemalige wêreldkampioen, toegerus met vinnige, sagter bande, het gepoog om vir George Russell en vir Max Verstappen om die eerste draai verby te steek, maar dinge het skeefgeloop en hy het kontak met sy Mercedes-spanmaat se renmotor gemaak.

Hy het op die gruisgedeelte langs die renbaan beland en sy regteragterband het in die slag gebly. Nodeloos om te sê het hy aanvanklik sy vinger in die rigting van Russell geswaai, maar hy het later van deuntjie verander.

“Ek wil om verskoning vra. Dit was waarskynlik net ʼn ren-insident, maar ek aanvaar volle aanspreeklikheid. Ek dink nie George kon iewers heen gaan nie,” het Hamilton gesê.

Russell, wat tweede op die wegspringrooster ná die vlieënde Verstappen was, het die wedren in die vierde plek voltooi, terwyl Hamilton ná die voorval die aftog moes blaas.

“Ek is natuurlik baie teleurgesteld oor dit wat in die eerste ronde gebeur het. Ek en Lewis het al twee goed weggespring en ek was langs Max toe ek skielik tussen die twee renmotors vasgedruk was. Ek kon nêrens heen gaan nie,” het Russell gesê.

Verstappen het uiteindelik sy 14de wedren van die seisoen gewen om met 433 punte op die jaerspunteleer te spog.

Uitslae:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Oscar Piastri (McLaren)
  3. Lando Norris (McLaren)
  4. George Russell (Mercedes)
  5. Charles Leclerc (Ferrari)
  6. Fernando Alonso (Aston Martin)
  7. Esteban Ocon (Alpine)
  8. Valtteri Bottas (Alfa Romeo)
  9. Zhou Guanyu (Alfa Romeo)
  10. Sergio Perez (Red Bull)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 433 punte
  2. Sergio Perez: 224 punte
  3. Lewis Hamilton: 194 punte
  4. Fernando Alonso: 183 punte
  5. Carlos Sainz: 153 punte
  6. Charles Leclerc: 145 punte
  7. Lando Norris: 136 punte
  8. George Russell: 132 punte
  9. Oscar Piastri: 83 punte
  10. Lance Stroll: 47 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 657 punte
  2. Mercedes: 326 punte
  3. Ferrari: 298 punte
  4. Aston Martin: 230 punte
  5. McLaren: 219 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Laksman ·

Maar direk na die voorval was die arme siel weer die slagoffer oor die span radio.

Patch ·

Ai ou Hamilton, altyd iemand anders se skuld. “Taken out by my own teammate”
Gelukkig het hy sy fout agtergekom na hy ‘n replay gesien het en wonder bo wonder erken hy was die skuldige party.
Ek wens hy wil nou op pensioen gaan. Ek dink hy is uitgedien.

Schalk ·

Arme Lulu, ek wens die man wil n ander loopbaan oorweeg. Vir hom, Toto en Sky sport is ek keelvol. Kon maar net sowel Lord Hamilton sport gewees het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.