‘Djoker’ lag weer laaste in Melbourne

Novak Djokovic. Foto: Patrick Hamilton/AFP.

As Rafael Nadal die “Koning van Klei” in Frankryk is, is Novak Djokovic ongetwyfeld die “Meester van Melbourne” in Australië.

Die wêreld se voorste tennisspeler het sy negende Australiese Ope-titel gewen toe hy Rusland se Daniil Medvedev met 7-5, 6-2 en 6-2 in die eindstryd getroef het.

In die proses het hy sy 18de Grand Slam verower; Nadal en Roger Federer se rekord van 20 titels lyk glad nie meer te ver weg nie.

Kyk, die 33-jarige Serwiër is hoegenaamd nie die gewildste speler op die internasionale verhoog nie; iets waaroor Djokovic al self oor kop gekrap het.

Maar selfs al ondersteun jy enigiemand wat teen hom speel, kan jy nie anders as om die wêreld se nommer een se houespel en deursettingsvermoë te bewonder nie.

Hy weet presies wanneer om die krane groter oop te draai.

Djokovic het vandag soos ’n vetgesmeerde blits weggetrek om 3-0 in die eerste stel voor te loop. Ja, Medvedev het daarna teruggeveg om die telling 3-3 te maak; maar wie het die eerste stel gewen?

Jy het reg geraai…

Daarbenewens het Djokovic ’n maagspier in een van die voorafgaande kragmetings beseer, maar sy liefde vir die Rod Laver-baan en die toernooi het hom duidelik aangespoor om deur te druk. Hy het in ’n onderhoud erken dat as dit enige ander toernooi was, hy waarskynlik lankal reeds die handdoek sou ingegooi het.

In sy toespraak nadat hy die trofee in ontvangs geneem het, het die Serwiese ster die organiseerders van die toernooi vir hul harde werk in uitdagende omstandighede bedank.

“Ek word elke jaar net liewer vir die Rod Laver-baan en sy ondersteuners,” het Djokovic gesê.

Terselfdertyd het hy ook Medvedev se lof besing. Die 25-jarige is die derde Rus om in die eindstryd van die Australiese Ope te speel, terwyl hy onoorwonne in 20 agtereenvolgende wedstryde was.

“Daniil is ’n wonderlike persoon langs die baan, maar op die baan is hy ongetwyfeld een van die taaiste teenstanders teen wie ek nog gespeel het. Ek voorspel dat ’n Grand Slam-titel om die draai is.”

Maar vir eers is Novak Djokovic ongetwyfeld die Meester van Melbourne. En dalk van die tenniswêreld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Therese ·

“Meester van Melbourne”, beslis!
Skitterende sportman en mens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.