Djoko: ‘Ongelooflik om terug te wees’

Novak Djokovic laat waai op die Indian Wells-oefenbaan. (Foto: Matthew Stockman/Getty Images North America via AFP)

Inentingsvereistes en Covid-19-regulasies het vir die afgelope vyf jaar ʼn stokkie voor Novak Djokovic se deelname aan die Indian Wells-toernooi in Kalifornië gesteek.

Maar die wêreld se voorste tennisspeler is terug in die VSA en hy is oorgehaal vir nog sukses.

Djokovic het reeds vyf keer die toernooi-silwerware (in 2008, 2011, 2014, 2015 en 2016) omhoog gehou en ʼn sesde titel is sekerlik binne sy bereik.

“Die laaste keer wat ek op dié pragtige baan gespeel het, was in 2019 – dit voel eintlik vir my soos gister. Dit is ongelooflik om terug te wees en ek kan nie wag vir die toernooi om te begin nie,” het die 36-jarige Serwiër op X geskryf.

Sy trofeepad begin Vrydag teen Australië se Aleksandar Vukic, terwyl moontlike tweestryde teen Ugo Humbert en Casper Ruud ook op hom wag.

Boonop – as alles natuurlik soos ʼn Toyota-advertensie net vir hom reg loop – kan hy die derde speler in die spel se geskiedenis word om ʼn 1 100 toerseges te vier.

Jimmy Connors (1 274 oorwinnings) en Roger Federer (1 251 oorwinnings) is al spelers wat tussen die Serwiër en nóg ʼn rekord staan.

Toegegee, op 36-jarige ouderdom is sy speeldae-uurglas inderdaad besig om leeg te loop, maar Djokovic is honger vir sukses, terwyl dit ook lyk of hy die fontein van ewige jeug iewers op een van sy tennisavonture ontdek het.

Daarbenewens het hy al vantevore erken dat hy nie sommer vir ʼn jonger speler sal terugstaan nie.

“Die jonger manne wil hul beste tennis teen my speel. Nou ja, dit motiveer my ook om op my beste te wees. Hulle het beslis vir my nuwe vuur en passie gegee,” het Djokovic gesê.

Deur die jare het die Serwiër ook al ʼn meester van sielkundige oorlogvoering op die baan geword.

“Daar is geen fisieke kontak in ʼn tenniswedstryd nie, maar daar is beslis oogkontak. Wanneer ons kante ruil, of wanneer ons ʼn vinnige blaaskans neem, hou ek my teenstander goed dop. Hoe drink hy sy water, sweet hy ʼn bietjie meer as normaalweg? Haal hy diep asem of nie? Alles het uiteindelik ʼn invloed op die wedstryd.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.