Djokovic gekap oor rampspoedige toer

Novak Djokovic van Serwië. (Foto: AP Photo/Mark Schiefelbein)

Die wêreld se voorste tennisspeler, Novak Djokovic, is oor die vingers getik vir die rampspoedige Adria-toer wat hy in Kroasië en Serwië van stapel gestuur het.

Verskeie spelers, onder wie Grigor Dimitrov en Borna Coric, het positief vir Covid-19 getoets, terwyl Djokovic en sy vrou, Jelena, ook positief getoets het. Nou is Djokovic se afrigter en voormalige Wimbledon-wenner, Goran Ivanisevic, die jongste slagoffer van die omstrede toer.

Hoewel Djokovic die vertoonwedstryde verdedig het, het dit kritiek vanuit verskeie oorde ontlok omdat dit te midde van die Covid-19-pandemie georganiseer is.

Volgens Paul Annacone, een van Roger Federer se oudafrigters, het die Serwiese ster goeie bedoelings met die vertoonwedstryde gehad.

“Ek dink daar is baie van sy medespelers wat ʼn bietjie kop krap. Novak se passie om iets goeds vir die tenniswêreld te doen, het waarskynlik al die wetenskaplike inligting verdoesel. Die toer was vir ʼn goeie doel gereël, maar die eindresultaat was rampspoedig,” het hy aan die Tennis Channel gesê.

Tog is daar ook diegene wat hom verdedig, onder wie nóg ʼn lid van sy afrigterspan, Marian Vajda.

“Ná ʼn lang ATP-breuk het die toer ongetwyfeld met die spelers se terugkeer na die baan gehelp. Al die deelnemers het gekom omdat die regering die Covid-19-regulasies verslap het. Dit is dus verkeerd om vinger te wys omdat die owerhede se regulasies gerespekteer is.”

Intussen het Wêreldtennis se beheerliggaam ʼn nuwe kalender uitgereik en dit is amptelik: Die Franse Ope by Roland Garros sal op 27 September begin.

Weens die wêreldwye Covid-19-pandemie is verskeie toernooie noodgedwonge uitgestel, terwyl die glansryke Wimbledon-toernooi vir 2020 heeltemal gekanselleer is.

Die New Yorkse goewerneur, Andrew Cuomo, het egter vroeër die groen lig vir die Amerikaanse Ope gegee om op 31 Augustus voort te gaan, terwyl die Franse Ope nou ʼn paar dae ná die afloop van dié toernooi sal afslaan.

“In hierdie moeilike omstandighede is ons maar net te deeglik bewus van die ongelooflike voorreg om Roland Garros wel aan te bied,” het die Franse tennispresident, Bernard Giudicelli, gesê.

“Die verantwoordelike besluit wat ons op 17 Maart geneem het om die Franse Ope na die herfsmaande uit te stel, beteken dat die 2020-kleitennisseisoen beredder kan word. Dit is natuurlik as die Covid-19-situasie nie versleg nie,” het hy gemaan.

Tog is nie alle spelers ewe opgewonde oor die komende toernooie nie.

“Is dit net ek, of is dit malligheid dat die Amerikaanse Ope nog voortgaan?” het Kirsten Flipkens op Twitter gevra.

“Daar is spelers wat positief vir Covid-19 toets. As ʼn speler dus gedurende die toernooi positief vir die virus toets, moet al die betrokkenes dan vir twee weke selfisoleer?” het die voormalige wêreldnommer 13 gevra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alexander ·

Die kritiek teen Novak is ongegrond. Hy kon die virus net sowel by spreekamer of in supermark gekry het. Die corona paranoia is belaglik. Hy het ten minste iets opbouend gedoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.