Djokovic het hiér voete van klei

Novak Djokovic. Foto: Christophe Simon/AFP.

In verlede jaar se eindstryd op Roland Garros het Rafael Nadal die baan met Novak Djokovic gevee om die kragmeting met 6-0, 6-2 en 7-5 te wen. Kommentators het die Spanjaard se vertoning as die beste ooit op ’n kleibaan bestempel.

Vroeër die maand het Nadal weer eens vir die Serwiese ster op ’n kleibaan ore aangesit – dié keer in Rome toe hy die Italiaanse Ope vir die tiende keer gewen het.

En hoewel Djokovic se statistieke op kleibane nie vir slegte leesstof sorg nie – hy het immers in 2016 die Franse Ope gewen – erken hy self dat hy nie baie daarvan hou om daarop te speel nie.

“Toe ek in Serwië grootgeword het, het ek die meeste van my tennis op kleibane gespeel, maar dit is ook die soort baan waarvan ek die minste hou,” het Djokovic gesê.

Volgens die 34-jarige wêreldnommereen-speler pas kleibane nie noodwendig by sy manier van speel nie en dit het ’n groot invloed op die normale ritme en tempo van sy spel.

“Mense by die huis dink dat daar nie ’n groot verskil tussen die verskillende soorte bane is nie, maar vir die spelers is daar ’n reuseverskil.”

Nou waar is sy gunstelingbaan dan om op te speel?

“Die Rod Laver-baan in Melbourne om 19:00,” is sy onmiddellike antwoord. Hy het immers reeds nege van sy 18 Grand Slam-titels in Australië gewen.

Maar, ondanks ’n oënskynlike achilleshiel op klei, meen talle kenners dat die 34-jarige Serwiër uiteindelik vir Nadal en Roger Federer verby sal steek in die wedloop om die meeste Grand Slam-titels ooit te wen.

Hoewel Nadal heel waarskynlik nie op Roland Garros gestuit kan word nie en Federer op sy beste op die grasbane van Wimbledon is, sal Djokovic nie ophou totdat hy ’n spul rekords verbeter het nie.

Hy is net so ingestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.