Djokovic kry pak, Nadal deur na teenstander onttrek

Die groot ontmoeting tussen Rafael Nadal en Novak Djokovic in die Franse Ope se halfeindstryd sal nie plaasvind nie.

Nadal is Woensdag deur na die halfeindronde, maar Djokovic is in skoon stelle deur Dominic Thiem uit die Franse Ope toernooi geboender. Die telling was 7-6, 6-3, 6-0.

Nadal (4) se kwarteind teen Pablo Carreno Busta (20) was ʼn antiklimaks. Nadal het die eerste stel maklik gewen en Busta moes ná twee potte in die tweede stel weens ʼn maagspierbesering aan die wedstryd onttrek. Die telling was 6-0, 2-0. Nadal se missie om sy tiende Franse Ope-titel in te palm is nog op koers.

Thiem (6) het foutlose tennis gespeel terwyl Djokovic (2) wel soms met briljante tennis vorendag gekom het, maar die verdedigende kampioen kon nie daarin kon slaag om sy foute te beperk nie. Die telling was 7-6, 6-3, 6-0.

Thiem is dus vir die tweede opeenvolgende jaar deur na die halfeindronde waar hy teen Nadal te staan sal kom.

♦  Andy Murray het sy kwarteind teen Kei Nishikori baie wankelrig begin, maar in die tweede stel reggeruk en gewys waarom hy eerste vir die toernooi gekeur is. Nishikori het hard teruggeveg, maar Murray het die wedstryd met 2-6, 6-1, 7-6, 6-1 beklink.

♦  Stanislas Wawrinka en Marin Cilic se kwarteindstryd het aanskoulike tennis opgelewer waar albei vir elke punt baklei het. Wawrinka het met 6-3, 6-3, 6-1 gewen en is deur na die halfeind waar hy teen Murray sal speel.

♦  Die twee oorblywende vroue-kwarteindwedstryde is ook Woensdag gespeel en dit het volgens die spelers se keuring verloop.

Karolina Pliskova (2) het Caroline Garcia (28) in skoon stelle met 7-6, 6-4 geklop. Garcia het dit nie vir Pliskova maklik gemaak nie, maar moes voor die ervaring en akkuraatheid van Pliskova swig.

Elina Svitolina (5) was met 5-0 voor in die eerste stel teen Simona Halep (3) toe Halep haarself reggeruk en drie potte na mekaar ingepalm het.

Maar Svitlona wen toe in elk geval die eerste stel met 6-3 en breek daarna onmiddellik in die tweede stel deur op Halep se afslaan. Die tweede stel is met ʼn valbylpot beslis waarin Halep ʼn wedstrydpunt oorleef het, en Halep maak toe korte mette van Svitolina in die derde stel.

Halep het met 3-6, 7-6, 6-0 gewen en kom in die halfeindronde teen Pliskova te staan.

Donderdag word die twee vroue-halfeindstryde gespeel. Die mans speel eers Vrydag.

Tyd: nie voor 15:00 nie

Jelena Ostapenko versus Timea Bacsinszky

Simona Halep versus Karolina Pliskova

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.