Djokovic marsjeer voort na Ope-titel

Novak Djokovic in aksie tydens gister se eindstryd. (AP Photo/Frank Franklin II)

Kom ons wees maar eerlik: Die kanse is baie goed dat Novak Djokovic nie net in die eindstryd van die Amerikaanse Ope gaan speel nie, maar ook om met die silwerware weg te stap.

In die afwesigheid van spelers soos Rafael Nadal en Roger Federer het die Serwiër gister ’n hengse tree in die regte rigting gegee toe hy Kanada se Milos Raonic in die eindstryd van die Western & Southern Ope geklop het.

Hoewel Djokovic die eerste stel aan die Kanadees afgestaan het, het hy teruggeveg om die kragmeting met 1-6, 6-3 en 6-4 te wen. In die proses het hy sy onoorwonne rekord van 2020 na 23 wedstryde verbeter en sy 35ste Meesterstitel ingeoes.

“In hierdie stadium van my loopbaan wil ek graag elke geleentheid met albei hande aangryp. Tans speel ek van die beste tennis nóg en met elke oorwinning kry my selfvertroue ’n lekker hupstoot,” het die 33-jarige Djokovic gesê.

Hy het in die loop van die toernooi met ’n seer nek gesukkel, terwyl die halfeindstryd teen Roberto Bautista Augut meer as drie uur geduur het. Die feit dat hy steeds met die louere weggestap het, spreek nie net boekdele van sy deursettingsvermoë nie, maar ook dat hy gewoond is om op die groot verhoog te wen.

Boonop het Raonic veral in die eerste stel op alle silinders gevuur en veral sy afslane en aggressiewe spel het Djokovic op die agtervoet geplaas. Binne ’n oogwink het hy die eerste stel met 6-1 gewen.

“Milos het in die eerste stel ongelooflike tennis gespeel; natuurlik het my ongedwonge foute nie veel tot die saak bygedra nie. Hy het egter van die beste afslane in wêreldtennis en hy plaas ʼn mens onder geweldige druk,” het Djokovic gesê.

Die Serwiër is egter nie verniet die wêreld se voorste speler nie en kort voor lank het hy die oorhand in die oorblywende stelle gekry.

Die Amerikaanse Ope begin môre in New York en Djokovic se eerste wedstryd is teen Damir Dzumhur.

Suid-Afrika se Kevin Anderson se openingswedstryd is teen Duitsland se Alexander Zverev.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.