Djokovic net té goed vir Anderson

Novak Djokovic en Kevin Anderson. Foto: Ben Stansall/AFP.

Die Bee Gees kan gerus ’n ekstra sinnetjie by die lirieke van How can you mend a broken heart voeg. “Hoe stuit jy vir Novak Djokovic op die tennisbaan?” behoort heel gepas te wees.

Suid-Afrika se Kevin Anderson het vandag beslis nie die antwoord op daardie vraag gehad nie toe die wêreld se voorste speler binne twee uur met hom klaar gespeel het. Die eindtelling was 6-3, 6-3 en 6-3 in die Serwiër se guns.

Daar was voor die wedstryd groot gewag van Anderson se kragtige afslane gemaak en dat dit waarskynlik die enigste manier sou wees waarop hy die Djokovic-wegholtrein kon stop.

Ja, die groot Suid-Afrikaner was in die kol met ’n hele paar kishoue, maar Djokovic kan selfs die gevaarlikste afslaan met ongewenste rente terugstuur. Sodoende het hy sy teenstander se grootste wapen op ’n drafstap geneutraliseer.

Teen die einde moes Anderson vir elke punt veg en hy het ongedwonge foute begin maak. Om dinge kortliks op te som: Die finalis van die 2018-toernooi is in die tweede ronde uitgeskakel; die wenner van die afgelope twee Wimbledon-eindstryde is steeds op koers na sy 20ste Grand Slam-titel.

“Ek is baie tevrede met my spel want Kevin is ’n uitstekende speler en baie gevaarlik op ’n vinnige grasbaan,” het Djokovic ná die wedstryd gesê.

Foto: Ian Walton/AFP.

Volgens die Serwiër het hy geweet dat Anderson swaar op sy afslane sal steun en hy het aanvanklik probeer om nie te veel kanse te waag nie.

Tog het hy ook ’n hele paar keer op die baan gegly.

“Ek het ’n paar keer lekker met gras kennis gemaak. Ek kan trouens nie onthou of ek al ooit so baie in die eerste twee rondes van Wimbledon geval het nie. ”

Novak Djokovic kan dus inderdaad op ’n tennisbaan gly. Maar nie sommer teen ’n teenstander nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jakes ·

Kevin Anderson is heeltemal oorweldig deur Djokovic. In beide tennis en muurbal moet jy die bal altyd in die teenoorgestelde rigting slaan waar jou openent staan. Anderson sukkel om dit prakties te doen en het hy sy eie ondergang bepaal. As n speler na jare se ondervinding hierdie basiese reel nie kan bemeester nie dan kry jy so n uitslag soos gister.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.