Djokovic nie meer wêreldno. 1

Serwië se Novak Djokovic. Foto: Joe Klamar/AFP.

Stuur maar solank die boodskappers uit – daar sal vanaf Maandag ’n nuwe tenniskoning op die ATP-troon sit.

Rusland se Daniil Medvedev het vir Novak Djokovic as die wêreld se voorste manstennisspeler onttroon nadat die 34-jarige ster op ietwat verrassende wyse teen Jiri Vesely (123ste op die wêreldranglys) in die kwarteindstryd van die die Dubai-kampioenskap verloor het.

Die eindtelling was 6-4 en 7-6 in die Tsjeggiese speler se guns en sy ondersteuners sal waarskynlik aanvoer dat die oorwinning g’n vloekskoot was nie – hy het nou al immers reeds twee keer met Djokovic klaargespeel.

Die Serwiër moes eintlik die toernooi gewen het as hy die vasberade Rus se opmars wou stuit. Tog het hy ’n verstommende lopie boaan die wêreldranglys geniet.

Vir 361 weke het Djokovic die septer as die voorste speler op die ATP-ranglys geswaai – ’n wêreldrekord.

Op sy beurt sal die 25-jarige Medvedev slegs die derde Rus in die sport se geskiedenis – naas Yevgeny Kafelnikov en Marat Safan – word om boaan die punteleer te staan.

Hy het juis vandag met Yoshihito Nishioka in die Mexiko-ope afgereken om ’n watertand-herontmoeting met Rafael Nadal in die toernooi se halfeindstryd te verseker.

Dit is die eerste keer in 18 jaar dat nóg Djokovic nóg Nadal, Roger Federer of Andy Murray die wêreldno.1-speler is.

En volgens Vesely is dit goed vir die sport.

“Novak is so ’n ongelooflike speler, maar dit is tyd dat iemand anders vir ’n slag as die wêreld se beste bekendstaan. Daar is ’n nuwe generasie spelers op die internasionale verhoog en tennis is in goeie hande,” het die Tsjeggiese speler gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

johan ·

Novak is dalk nie meer 1 op die ranglys nie maar hy is steeds die beste speler in die wereld!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.