Djokovic op pad na Tokio, jaag Graf se rekord

Novak Djokovic vier sy oorwinning teen Rafael Nadal op Roland Garros (11 Junie 2021) (Foto: Martin Bureau/AFP)

Die wêreld se voorste manstennisspeler, Novak Djokovic, gaan by die Olimpiese Spele in Tokio in aksie wees.

Die 34-jarige Serwiër het die nuus op sosiale media bevestig. En in die afwesigheid van groot name – onder wie Roger Federer, Dominic Thiem en Rafael Nadal – sal hy ook die gunsteling wees om met die Olimpiese louere weg te stap.

“Ek het my vlug na Tokio bespreek en is trots daarop om deel van die Serwiese span vir die Olimpiese Spele te wees,” het Djokovic geskryf.

Die Australiese Ope-, Franse Ope- en Wimbledon-titels is reeds in die sakkie; ’n moontlike Olimpiese goue medalje sal saam met ’n moontlike Amerikaanse Ope-beker die kroon op ’n uitstekende jaar vir Djokovic span.

Trouens, nog net een speler in die geskiedenis van die spel – Steffi Graf in 1988 – kon al vier Grand Slam-titels en die Olimpiese Spele in een jaar wen.

Amal weet dat Djokovic op ’n sending is om die suksesvolste speler ooit te word. En hy word nie sommer van stryk gebring nie.

Hy word nie sommer by groot toernooie gestuit nie. Foto: Patrick Hamilton/AFP.

Die afgelope sukses op Wimbledon was sy 20ste Grand Slam-titel en sy afrigter, Goran Ivanisevic, het ander spelers gewaarsku dat die Serwiër nog baie ambisie-petrol in die tenk oorhet.

“Novak is soos die aksiehelde in die flieks. Maak nie saak hoeveel keer hy geskiet word nie, hy staan net elke keer op. Daar is elke dag iets nuuts; elke dag iets beters. Hy gaan nie ophou nie. Hy wil nie ophou nie,” het die Kroaat gesê.

In die afgelope tien jaar het Djokovic ook boonop meer groot titels (19) as Federer en Nadal (15) sáám ingeoes.

Duitsland se Alexander Zverev het Ivanisevic se woorde beaam – die Djokovic-sneltrein gaan nie binnekort tot stilstand gebring word nie.

“Hy is steeds honger vir sukses en vasbeslote om nog baie rekords agter sy naam te skryf. Ek dink nie hy gaan ophou totdat hy almal verbeter het nie,” het die jong Duitser gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.