Djokovic toets positief vir Covid-19

Novak Djokovic en Viktor Troicki. Foto: AP Photo/Bernat Armangue.

Die wêreld se voorste tennisspeler, Serwië se Novak Djokovic, het positief vir Covid-19-getoets.

Die 32-jarige Djokovic was onlangs in aksie in vertoonwedstryde in sy geboorteland en in Kroasië. Sy vrou, Jelena, het ook positief getoets.

“Die oomblik toe ons in Belgrado aankom is ons getoets. My uitslag was positief, asook my vrou s’n. Ons kinders het egter negatief getoets,” het hy in ’n verklaring gesê.

Hy het kritiek ontlok omdat hy, te midde van die Covid-19-pandemie, ’n toernooi georganiseer het waaraan spelers van ander lande deelgeneem het.

Viktor Troicki en sy swanger vrou is ook positief getoets, terwyl Grigor Dimitrov – wat drie keer in die halfeindstryd van ’n Grand Slam-toernooi in aksie was – ook Covid-19-positief is.

Ten spyte van die gesondheidsterugslag het Djokovic die vertoonwedstryd-toer verdedig.

“Ons het alles met die beste bedoelings georganiseer. Die toernooi was veronderstel om almal te verenig en ’n boodskap van empatie en hoop uit te stuur.

“Die doel was altyd om geld vir behoeftige mense in te samel en dit het my bly gemaak om te sien hoe almal deel van die idee geword het. Ons het die toernooi van stapel gestuur toe die virus ’n ietwat afwaartse kurwe in die streek getoon het.

“Ongelukkig is die virus steeds hier en daar is ’n nuwe werklikheid waarvolgens ons almal moet leef.”

Djokovic sal nou vir 14 dae in selfisolasie wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.