Djokovic trap klei teen Lajovic

Novak Djokovic sal nou weer by die Madrid-ope in aksie wees. (Foto: Elvis Barukcic/AFP)

Dit lyk of Novak Djokovic nog nie vanjaar behoorlik sy voete op ʼn kleitennisbaan gevind het nie. Nadat die wêreld se voorste speler vroeg in Monaco uitgeskakel is, het hy nou in die kwarteindstryd in Bosnië verloor.

Die Serwiër het nou teen sy landgenoot, Dusan Lajovic, met 6-4 en 7-6 die onderspit gedelf.

“Dit is die grootste oorwinning van my loopbaan. Novak is nie net ʼn goeie vriend nie, maar ook ons land se groot held. Ek het nooit gedink dat dit moontlik sou wees om hom te klop nie,” het Lajovic gesê.

Die 32-jarige speler het munt uit Djokovic se swak afslaanwerk geslaan, terwyl hy ook sy teenstander lekker op die baan rondgejaag het.

Die wêreldno. 1-speler was egter vol lof vir Lajovic.

“Dusan is ʼn fantastiese persoon en ek ken hom al vir jare, vandat hy sy professionele tennisbuiging gemaak het. Daarbenewens het ons ook gereeld saam geoefen en in Davisbekerwedstryde gespeel. Ek is baie trots op hom,” het Djokovic gesê.

In Spanje het Carlos Alcaraz en Stefanos Tsitsipas na die halfeindstryd van die Barcelona-ope deurgedring.

Alcaraz het Alejandro Davidovich Fokina met 7-6 en 6-4 ore aangesit, terwyl Tsitsipas met Alex de Minaur afgereken het.

Die eindtelling was 6-4 en 6-2 in die Griekse speler se guns.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.