Djokovic verloor weer humeur, maar dis Nadal wat klei trap

Novak Djokovic het uit pure frustrasie sy raket stukkend geslaan. (Alfredo Falcone/LaPresse via AP)

Skaars twee weke nadat Novak Djokovic gediskwalifiseer is tydens sy wedstryd teen Pablo Carreño Busta in die Amerikaanse Ope, het hy gister in Rome wéér sy humeur op die baan verloor.

Die wêreld se voorste speler het weliswaar sy kwarteindstryd-kragmeting teen Duitsland se Dominik Koepfer met 6-3, 4-6 en 6-3 gewen, maar dit beteken nie dat dinge noodwendig vlot vir die Serwiese ster verloop het nie.

Koepfer het veral in die tweede stel goed gespeel en hy het een van Djokovic se afslaanpotte gemaklik gewen om die voortou te neem. Dit was een te veel vir die Serwiër en hy het uit pure frustrasie sy raket op kleinbaan geslaan.

“Dit is nie die eerste, óf die laaste raket wat ek in my loopbaan gaan breek nie. Ek het dit al vantevore gedoen en sal dit waarskynlik ook weer doen,” het Djokovic gesê.

“Ek dink dit is ’n uitlaatklep vir my frustrasie, maar dit is glad nie die beste voorbeeld vir jong spelers wat na my opsien nie.”

Djokovic het egter gister al ’n hele rukke vóór die raketslaan-insident ontevrede gelyk en hy het ’n paar kere vies na die skeidsregter geloer.

“Dit is maar hoe ek is. Natuurlik is ek nie perfek nie en ek probeer my bes om my frustrasies in toom te hou,” het hy gesê.

Hy speel vandag om 14:00 in die halfeindstryd van die Italiaanse Ope teen Noorweë se Casper Ruud.

Rafael Nadal. (Alfredo Falcone/LaPresse via AP)

Die dag se grootste verrassing was egter toe Rafael Nadal – die koning van die kleibaan – teen Argentinië se Diego Schwartzman vasgeval het.

Die Spanjaard het met 6-2 en 7-5 verloor en hy het onmiddellik ná die wedstryd na maniere gesoek om sy spel te verbeter.

“Ons kan na verskonings soek, maar ek het doodeenvoudig net nie goed genoeg gespeel nie. Ek het moet dit aanvaar en aanbeweeg,” het Nadal gesê.

Die Spaanse matador sal binnekort poog om sy 13de Franse Ope-titel in Parys te wen.

Schwartzman sal in die ander Rome-halfeindstryd teen Kanada se Denis Shapvalov te staan kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jax ·

Volwasse mense wat hulle soos laerskool kinders gedra. Daar moet baie strenger opgetree word teen sportlui wat hul humeur so op die baan/veld verloor!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.