Djokovic vier Indian Wells-terugkeer met sege

Novak Djokovic is terug en op die wenpad in Kalifornië. (Foto: X/Indian Wells)

Novak Djokovic was laas in die halfeindstryd van die Australiese Ope in ʼn mededingende tenniswedstryd op die baan gewees.

Nou het hy sy eerste Indian Wells-wedstryd in ʼn paar jaar gewen toe hy vir Aleksandar Vukic in Kalifornië geklop het.

Dit was weliswaar nie die perfekte wedstryd nie, maar die wêreld se voorste speler het nogtans die kragmeting met 6-2, 5-7 en 6-3 beklink.

“Vyf jaar is ʼn lang tyd vir ʼn professionele tennisspeler, tog voel dit vir my ook soos gister wat ek laas hier gespeel het. Die respek en waardering waarmee spelers hier behandel word, is ongelooflik om te sien; dit is inderdaad die tennisparadys,” het die 36-jarige Serwiër gesê.

Djokovic het ook sy waardering vir Vukic se onverskrokke benadering tot die kragmeting uitgespreek.

“Hy het uitstekend gespeel en verdien die lof en applous. Die toeskouers het beslis sy spel geniet en hy het met ʼn paar kragtige voorhandhoue vorendag gekom.”

Tog weet die vyfmalige Indian Wells-kampioen maar net hoe om in ʼn wedstryd se belangrike oomblikke sy man te staan.

“Ek kon sy spel egter in die derde stel beter lees en toe ek eers sy afslaanpot gewen het, het ek die wedstryd op ʼn goeie noot beëindig.”

Djokovic speel in die volgende ronde teen Italië se Luca Nardi.

Uitslae:

Daniil Medvedev klop Roberto Carballes Baena met 6-2 en 6-3

Gael Monfils klop Hubert Hurkacz met 6-0, 6-7 en 6-2

Casper Ruud klop Lukas Klein met 6-4 en 7-6

Novak Djokovic klop Aleksandar Vukic met 6-2, 5-7 en 6-3

Lorenzo Musetti klop Denis Shapovalov met 6-2, 2-6 en 7-5

Taylor Fritz klop Alejandro Tabilo met 7-6 en 6-2

Grigor Dimitrov klop Alexandre Muller met 7-5 en 6-2

Cameron Norrie klop Lorenzo Sonego met 6-4 en 6-4

Aryna Sabalenka klop Peyton Stearns met 6-7, 6-2 en 7-6

Elina Svitolina klop Katerina Siniakova met 6-3, 2-6 en 6-1

Naomi Osaka klop Liudmila Samsonova met 7-5 en 6-3

Maria Sakkari klop Diana Schnaider met 5-7, 6-4 en 6-0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.