Djokovic weer te sterk vir Spanjaard

Novak Djokovic is deur na die eindstryd in Turyn. (Foto: Tiziana Fabi/AFP)

Novak Djokovic het sy tweede wedstryd op ʼn streep teen Carlos Alcaraz gewen toe hy die jong Spanjaard met 6-3 en 6-2 in die halfeindstryd van die ATP-eindronde geklop het.

Die 20-jarige Alcaraz het weliswaar met die Wimbledon-louere weggestap, maar Djokovic het hom daarna in Cincinnati en nou in Turyn ore aangesit.

Die Serwiër se slim taktiese spel het sy teenstander se aggressiewe benadering geneutraliseer en hy het die wedstryd binne 90 minute gewen.

“Ek het die kragmeting met die regte ingesteldheid benader. Carlos het sommer in die eerste pot met sy houespel beïndruk toe hy ʼn voorsprong van 40/15 geniet het. Hy is ʼn speler wat jou altyd druk om op jou beste te wees. Ek kon egter nou my man staan,” het Djokovic gesê.

Volgens Alcaraz is hy nog nie op dieselfde vlak as die wêreld se voorste speler op binnenshuise bane nie.

“Novak speel dieselfde tennis vir die hele wedstryd – die gehalte van sy houe is net ongelooflik. Hy slaan die bal baie diep en dit maak dit moeilik om jou stempel op die wedstryd af te druk. Hy het net weer eens gewys waarom hy die beste ter wêreld is,” het die Spanjaard gesê.

Djokovic sal in die eindstryd teen Jannik Sinner speel, ʼn speler teen wie hy vandeesweek die onderspit gedelf het.

“Jannik speel fantastiese tennis en die atmosfeer was elektries in ons vorige wedstryd. Ek verwag weer iets soortgelyks en ek sal oudergewoonte op my beste moet wees.”

Uitslae:

Novak Djokovic klop Carlos Alcaraz met 6-3 en 6-2

Jannik Sinner klop Daniil Medvedev met 6-3, 6-7 en 6-1

Eindstrydbepaling:

Novak Djokovic teen Jannik Sinner.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.