Djokovic wen eerste wedstryd ná lynregter-sage

Novak Djokovic in Rome. (Alfredo Falcone/LaPresse via AP)

Serwië se Novak Djokovic het pas sy eerste wedstryd terug op die baan ná sy lynregter-glips tydens die Amerikaanse Ope gewen.

Die wêreld se voorste speler het maklik met Italië se Salvatore Caruso klaargespeel om met 6-3 en 6-2 in die tweede ronde van die Italiaanse Ope in Rome te wen.

Djokovic het ’n loslootjie in die eerste ronde van die Italiaanse toernooi getrek nadat hy op omstrede wyse die aftog in New York moes blaas.

Hy was vroeër vandeesmaand goed op koers om die Amerikaanse Ope te wen.

In die afwesigheid van Roger Federer en Rafael Nadal het hy die voorafgaande Western & Southern-opwarmingstoernooi gewen en hy het betreklik maklik tot die vierde ronde van die toernooi gevorder.

Maar sy wegholtrein het lelik ontspoor toe hy gediskwalifiseer is tydens sy wedstryd teen Pablo Carreño Busta.

Djokovic het ’n gulde geleentheid deur sy vingers laat glip om die eerste stel teen die Spanjaard te wen. Uit pure frustrasie het hy die bal weg geslaan en een van die wedstrydbeamptes teen haar keel getref.

Hy het haar onmiddellik te hulp gesnel, maar ná ’n lang gesprek met beamptes is daar besluit om sy Ope-veldtog te beëindig.

Hoewel Djokovic onmiddellik om verskoning gevra het, het hy in ’n onlangse onderhoud gesê dat hy nie kan waarborg dat iets soortgelyks nie weer in sy loopbaan sal gebeur nie.

“Ek verstaan dat ek soms uitbarstings het; dit is maar die tipe speler wat nog altyd was. Ek kan nie belowe dat ek nooit weer iets soortgelyks in my lewe sal doen nie. Ek sal egter my bes probeer dat dit nie weer sommer gebeur nie,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.