Meer as 20 jaar gelede het dr. Wilma Bergh en René Odendaal die land se netbalbane aan die brand gespeel in die kleure van die Universiteit van Pretoria.
Al twee spelers het nasionale kleure verwerf, terwyl René deel van die Suid-Afrikaanse netbalspan was wat ’n silwer medalje by die Wêreldbeker-toernooi in 1995 gewen het.
Nou kan hul dogters – Jani Bergh en Euné Odendaal – in hul ma’s se netbalspore volg wanneer die netbalseisoen begin. Jani het immers reeds vir die Suid-Afrikaanse o.18-span in 2017 gespeel.
En as hulle enigsins soos hul ma’s speel, sal die ander spanne maar moet ligloop vir die meisies van Pretoria.
Volgens René was Suid-Afrika se Wêreldbeker-span al effens aan die ouer kant. Daarbenewens was dit ’n vloekskoot dat hulle vir die eindstryd gekwalifiseer het omdat Australië en Nieu-Seeland vroeër tydens toerwedstryde die vloer met hulle gevee het.
“Ons gemiddelde ouderdom was so 30 jaar en ouer. Ek was toe 33 terwyl van my spanmaats selfs ouer was. Irene van Dyk en Dominique Harverson was die twee jong spelers,” sê René.
“Ons was egter honger om te wen en dit het beslis in ons guns getel; vir baie van ons sou daar geen tweede kans gewees het nie en dit het ons ongetwyfeld tot groter hoogtes aangespoor.”
Die span het die einste Nieu-Seelanders – teen wie hulle vroeër so gesukkel het – met 59 – 57 in die groepwedstyde geklop. Dit het die weg gebaan vir ’n plek in die eindstryd.
Wilma was op haar beurt vir die Kay Meyer-span gekies. Dit was destyds die hoogste eerbetoon vir ’n Suid-Afrikaanse netbalspeler.
Maar wat van hul dogters?
Euné was op skool ’n talentvolle swemmer en daar was selfs sprake dat sy verder in die VSA aan haar vaardighede sou slyp. ’n Skouerbesering het egter ’n stokkie daarvoor gesteek en sy het twee jaar gelede weer begin netbal speel.
Sy was verlede jaar vir die Tshwane B-span by die SA Kampioenskap in aksie.
Jani sukkel tans met ’n enkelbesering wat haar op die kantlyn hou – iets waaraan sy beslis nie gewoond is nie.
Sy speel net soos haar ma senter en meen dat haar ratsheid en vermoë om die spel te lees haar grootste sterk punte op die baan is.