Drama by Hongaarse Grand Prix

Die Hongaarse Grand Prix het sommer vroeg vir drama gesorg. Foto: Peter Kohalmi/AFP.

As die renmotors by vandag se F1-wedren in Hongarye met ’n spul kegels vergelyk kon word, dan was Valtteri Bottas ongetwyfeld die bal wat gesorg het dat hulle in verskillende rigtings gespat het.

Die aksie het skaars begin of die Mercedes-renjaer se remblaps het gesorg dat Lance Stroll, Charles Leclerc, Lando Norris en Sergio Perez se wedrenne tot ’n skielike einde gekom het, terwyl Max Verstappen se Red Bull-motor kwaai in die deurmekaarspul beskadig is.

Lewis Hamilton – wat heel voor weggespring het – het egter ongeskonde uit die hele petalje gekom, maar ’n vreemde kuipstopstrategie het beteken dat hy homself in die laaste plek bevind het toe die wedren uiteindelik hervat is.

Maar met die vlerke van Verstappen se Red Bull geknip het Hamilton met die vinnigste motor op die baan gespog en Mercedes se slim taktiese besluitneming het gesorg dat hy sy pad stelselmatig na die voorste deelnemers oopgeveg het.

Hy sou waarskynlik vir Esteban Ocon (eerste) en Sebastian Vettel (tweede) om die twee boonste plekke op die podium uitgedaag het as dit nie vir ’n briljante Fernando Alonso was nie.

Die 40-jarige Spanjaard het sy posisie uitstekend verdedig en Hamilton het gesukkel om verby te kom; hierdie kat-en-muis-speletjie het tyd en krag vermors en die Brit moes met ’n derde plek tevrede wees.

Dit was steeds nie ’n slegte vertoning nie en hy is nou weer die voorloper op die jaerspunteleer.

Tog is dit die tweede agtereenvolgende wedren waarin Verstappen in die eerste ronde uitgeskakel is. As daar ooit ’n renjaer was wat brand om wraak op die baan te neem, dan is dit ongetwyfeld die 23-jarige Nederlander.

Esteban Ocon vier sy sege. Foto: Ferenc Isza/AFP.

Maar Ocon verdien al die vonkelwynspatsels op sy renpak nadat hy so te sê van begin tot einde die wedrenvoorloper was.

“Dit was ’n fantastiese dag. Ek dink Fernando verdien baie lof; die sege is ook te danke aan sy veglustige vertoning (om Hamilton weg te hou). Dit is wat spanwerk kan doen,” het die jong Fransman gesê.

En Bottas?

Hy is met vyf plekke op die wegspringrooster by die volgende wedren gestraf.

  • Uitslae:
  1. Esteban Ocon (Alpine)
  2. Sebastian Vettel (Aston Martin)
  3. Lewis Hamilton (Mercedes)
  4. Carlos Sainz (Ferrari)
  5. Fernando Alonso (Alpine)
  6. Pierre Gasly (AlphaTauri)
  7. Yuki Tsunoda (AlphaTauri)
  8. Nicholas Latifi (Williams)
  9. George Russell (Williams)
  10. Max Verstappen (Red Bull)
  • Puntestand op die kampioenskap-punteleer (jaers):
  1. Lewis Hamilton 192 punte
  2. Max Verstappen 186 punte
  3. Lando Norris 113 punte
  4. Valtteri Bottas 108 punte
  5. Sergio Perez 104 punte
  6. Charles Leclerc 80 punte
  7. Carlos Sainz 80 punte
  8. Daniel Ricciardo 50 punte
  9. Sebastian Vettel 48 punte
  10. Pierre Gasly 48 punte
  • Puntestand op die kampioenskap-punteleer (motorvervaardigers):
  1. Mercedes 300 punte
  2. Red Bull 290 punte
  3. McLaren 163 punte
  4. Ferrari 160 punte
  5. Alpine 75 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
MakersMark

Alonso het vir 10 rondtes die kniebuiger ‘n les gegee.

Pieter

Lyk dat Mercedes vir Max wil uitskakel. Sir Hamilton toe eerder Lord Hamilton.