
Dricus du Plessis gaan ’n kans kry om ’n UFC-kampioen te word. (Foto: Steve Marcus/Getty Images North America via AFP)
Binnekort kan die hele gemengdegevegskuns-wêreld weet wat Suid-Afrikaners reeds weet: Dricus du Plessis is ʼn gebore kampioen.
Die Suid-Afrikaner kry vroeg in 2024 sy titelkans – iets waarvoor hy baie hard gewerk het – wanneer hy met Sean Strickland om die UFC-middelgewigtitel in Toronto meeding.
UFC-grootbaas Dana White het die nuus op sosiale media bevestig.
Strickland het vroeër teen verwagting in die titel by Israel Adesanya afgevat, maar hy sal sy storie teen Du Plessis moet ken – ʼn vegter wat nog onoorwonne in die Ultimate Fighting Championship-hok is.
Dit was egter die Suid-Afrikaner se laaste geveg teen Robert Whittaker wat vriend en vyand beïndruk het.
“Stillknocks” het in Julie gedoen wat hy vooraf beloof het toe hy vir Whittaker in die tweede ronde van hul Las Vegas-geveg planke toe gestuur het.
Du Plessis se vuiste het ongetwyfeld die praatwerk vir hom gedoen en hy het die topgekeurde Aussie met ʼn paar goed berekende houe harpuis laat ruik.
Die geveg is ʼn kort rukkie later stopgesit en die Pretorianer kon sy sesde UFC-oorwinning op ʼn streep vier.
Die oorwinning het ook vir elke ongelowige Thomas rede gegee om in sy vaardighede te glo.
Baie ontleders het gemeen dat Du Plessis nie fiks genoeg is om met die bestes saam te gesels nie, maar ʼn neusoperasie het die Suid-Afrikaner se asemhaling ʼn lekker hupstoot gegee en hy het nie eens moeg teen Whittaker gelyk nie.
“Kan julle almal sien hoe moeg ek nou is?” het hy na afloop van die geveg geskerts. “Ek het julle gesê dat daar niks met my kardiofiksheid skort nie.”
Sean Strickland will face Dricus Du Plessis for the middleweight title at UFC 297 in Toronto, Dana White announced Monday. pic.twitter.com/aaeNGlEIEe
— ESPN MMA (@espnmma) November 6, 2023
Dricus, hulle weet nie wat ons weet nie!
Slaan hom Dricus!!
Laat ons verenig om Dricus te ondersteun, soos ons vir die Bokke gedoen het. Ek het self skopbboks gedoen en kan getuig van die patriotisme wanneer mems jou land op die internasionale platvorms verteenwoordig. Daardie trots, daardie adrienalien, daardie emosies.wanneer die volkslied begin speel ons jou land se vlag wapper. Gaan groot Dricus. Verower daardie belt.
Isreal is n arrogante eier, sou graag wou sien hoe Dricus hom goed op sy plek sit. Strickland is n oraait ou maar gee hom swieties Dricus!