Dricus oorgehaal vir UFC-buiging

Dricus du Plessis ná vanaoggend se oefensessie. Foto: Twitter.

Wanneer ʼn mens die Ultimate Fighting Championship (UFC) se amptelike webblad besoek, is daar nog bitter min inligting oor Dricus du Plessis beskikbaar. Maar dit kan alles ná die naweek verander.

Die 26-jarige Suid-Afrikaanse gemengde gevegskuns-atleet maak Sondag sy UFC-buiging teen Brasilië se Markus Perez op Dana White se Fight Island.

“My oggendoefensessie is iets van die verlede en ek is gereed vir aksie. Hierdie is die grootste oomblik van my loopbaan,” het Du Plessis vanoggend op sosiale media gesê.

Duidelik is beroepswedders ewe optimisties oor sy kanse en volgens World Sports Betting is hy die gunsteling om met die louere teen Perez weg te stap.

Du Plessis in Cameron Saaiman se hoek. Foto: Verskaf.

Cameron Saaiman is saam met Du Plessis in Abu Dhabi waar hy met die laaste voorbereiding uithelp.

“Ek is ongelooflik opgewonde om Dricus in aksie te sien. Hy lyk soos ’n kampioen en sy gewig is so te sê perfek,” het die oudleerling van Hoërskool Garsfontein vir Maroela Media gesê.

Saaiman is een van die Extreme Fighting Championship se blinkste jong sterre en hy het juis gedurende EFC84 vroeër vanjaar in Pretoria ’n prestasiebonus gekry omdat hy Zwelebanzi Ngema in sy spore gestuit het.

Dit is alombekend dat Du Plessis een van sy helde is. En as “Stillknocks” Sondag wen, kan hy ook met ’n hele paar nuwe internasionale ondersteuners spog.

  • Volgens Saaiman begin die hoofgevegte Sondagoggend om 05:00 (SA tyd) en Du Plessis se kragmeting behoort om 06:00 te begin.
  • Die hoofgevegte:

Youssef Zalal teen Ilia Topuria; Tom Aspinall teen Alan Baudot; Markus Perez teen Dricus du Plessis; Ben Rothwell teen Marcin Tybura; Edson Barboza teen Makwan Amirkhani; Marlon Moraes teen Cory Sandhagen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae