Dricus du Plessis se skoueroperasie was ’n sukses.
Die Suid-Afrikaanse gemengdegevegskuns-ster is in die eerste week van sy oefenkamp ter voorbereiding van sy geveg teen Andre Muniz by UFC269 beseer. Hy is Vrydag geopereer.
“Dit is nou tyd om die herstelproses beter as enigiemand anders ooit vantevore aan te pak,” het Du Plessis vanuit sy hospitaalbed op sosiale media gedeel.
Hoewel sy Muniz-geveg vir eers van die baan is, het die 27-jarige hokvegter vroeër gesê dat hy beplan om Maart volgende jaar weer in aksie te wees.
Hy is nog onoorwonne in sy jong UFC-loopbaan nadat hy vroeër maklik met Markus Perez en Trevin Giles klaargespeel het.
Hy het al twee gevegte met ’n uitklophou gewen.
Sosiale media het veral ná die Giles-sege oor die Suid-Afrikaner gegons, terwyl Joe Rogan (die gewilde UFC-kommentator) sy vertoning onder meer as ’n “uitstekende oorwinning” bestempel het.
“My naam is Dricus du Plessis. Waar ek vandaan kom, is dit nie ’n baie moeilike naam om uit te spreek nie, maar ek sien mense sukkel om dit te sê. Onthou dit maar gerus, want dit gaan binnekort ’n alombekende naam in UFC-kringe wees,” het hy ná die Giles-geveg aan Rogan gesê.
Du Plessis het onlangs ’n kontrak van twee jaar met die UFC onderteken en hy wil poog om stelselmatig die ranglys na titelglorie te klim.
HUGE RIGHT HAND FROM DRICUS DU PLESSIS!
???????? @DricusDuPlessis putting South Africa on the MAP! #UFC264 pic.twitter.com/J2VnS9SInJ
— UFC Europe (@UFCEurope) July 11, 2021
Hoop jy herstel gou, Dricus, en dat jy so bietjie van nederigheid sal leer.
Mag jy bo uitkom. Ons skree vir jou.
Uitstekende sportsman met goeie disipline en jy kan opmerk hy is goed grootgemaak met sy sterk nederige gehardheid ek hoop jy bring dit nog ver.