Dricus weer Maart in UFC-aksie

Foto: Twitter.

Dricus “Stillknocks” du Plessis sal weer op 20 Maart in UFC-aksie wees wanneer hy die VSA se Trevin Giles in die hok aanvat.

Die Suid-Afrikaanse gemengdegevegskuns-atleet het die nuus op sy amptelike Twitter-rekening met ’n opgewonde “I’m back!” bevestig.

“Ek kan nie wag vir die volgende geveg op reis na die titel nie. Dít was maar net die begin en nou weet die hele wêreld waarvan ons al vir ’n geruime tyd bewus is!” het hy vantevore gesê.

Du Plessis het verlede jaar amok in sy Ultimate Fighting Championship-buiging teen Brasilië se Markus Perez gemaak toe hy die geveg in die eerste ronde op Dana White se Fight Island in Abu Dhabi gewen het.

Hoewel die meer ervare Perez destyds sterk begin het, het Du Plessis vinnig sy voete gevind en op die aanval oorgeslaan. Een van sy opstoppers het die Brasiliaan góéd getref en die gevegbeampte het kort daarna die aksie stopgesit.

Hy het ná die geveg ook sy stem oor plaasmoorde dik gemaak.

“Suid-Afrika gaan tans deur ’n moeilike tyd met plaasmoorde wat hoogty vier; mense word daagliks vermoor,” het Du Plessis gesê.

Hy het bygevoeg dat die internasionale gemeenskap dalk nie daarvan bewus is nie en dat hy sy platform wil gebruik om mense in te lig.

“Kom ons sit die plaasmoorde stop. Ek wil hê die wêreld moet sien wat in Suid-Afrika gebeur. Dit is só ’n mooi land en dit word deur dinge soos dié geruïneer. Kom ons staan saam as land om dit te oorwin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alexander ·

Welgedaan Dricus. Ons staan saam met jou teen plaasmoorde. Mag jy vir jare titels bymekaar maak en orals waar jy gaan die stryd teen plaasmoorde blootstelling gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.