Driekamp-driekuns vir Murray in Nieu-Seeland

Richard Murray net na hy oor die wenstreep is. (Foto Scott Tyler ITU)

Die Suid-Afrikaanse driekampatleet Richard Murray het die naweek die derde opeenvolgende jaar die New Plymouth Wêreldbekerkompetisie in Nieu-Seeland gewen.

Dit was sy vierdie oorwining in die driekampreeks nadat hy die jaar met oorwinnings in die Kaapstadse Wêreldbeker, die Xterra SA en die nuwe Superliga Driekamp weggespring het.

Maar alles het die afgelope naweek in New Plymouth in die verkorte byeenkoms nie sondermeer voor die wind vir hom verloop nie. Weens ʼn seer enkel het hy met swaarder oefenskoene gehardloop wat hom by die oorgangspunt sowat 12 sekondes meer gekos het as wat hy met sy gewone skoene neem.

Die weersomstandighede was boonop nat en koud en dit het die fietsrybeen van die driekamp moeiliker gemaak.

Murray het daardie verlore 12 sekondes wat hy by die oorgangspunt ingeboet het, egter gou ingehaal en daarna die voortou met die padwedloop geneem. Dit was in die laaste kilometers reeds duidelik dat Murray die driekampkompetisie vir die derde keer gaan wen.

Matthew McElroy (VSA) en die Nieu-Seelander Ryan Sissons was onderskeidelik tweede en derde.

Murray het na die kompetisie gesê hy het nie gedink hy sal so goed vaar nie want hy moes versigtig wees met sy enkel. Met die wegspring het die enkel veroorsaak dat hy die laaste deelnemer was in die wedloop water toe begin swem het.

♦  Murray se volgende kompetisie is die WTS Gold Coast op 8 April wat oor die normale driekamp-afstand sal plaasvind.

Artikel verskaf deur Outsider Communications

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.