Driekampatlete swem, trap en draf by Steyn City

Driekamp is ongetwyfeld ’n gewilde sportsoort. Foto: Verskaf.

Ongeveer 800 deelnemers het die afgelope naweek in Steyn City geswem, fietsgetrap en gedraf tydens die Auto & General X Tri-byeenkoms.

Shaun Wolfaardt en Nicolette Griffioen was die uiteindelike wenners nadat hulle die avontuur onderskeidelik in 1:53:06 en 2:11:08 voltooi het.

Onder die deelnemers was daar ook ʼn paar bekendes soos Macfarlane Moleli van Carte Blanche en Jacaranda FM se Rozanne McKenzie.

“Ek is bevoorreg om my eerste driekamp in die pragtige Steyn City-omgewing te doen. Ek is baie dankbaar vir die ervaring en ek sal beslis volgende jaar weer hier wees,” het McKenzie gesê.

Nicolette Griffioen. Foto: Verskaf.

Toe die organiseerders, Advendurance, aangekondig het dat die driekamp ook afstand van 300 m (swem), 15 km (fietsry) en 3,5 km (draf) sal insluit het die belangstelling aansienlik toegeneem; die pretfaktor was beslis ʼn bydraende faktor.

“Kaartjies was reeds ʼn paar weke voor die tyd uitverkoop en die resep is beslis gewild by driekampatlete. Sedert verlede jaar het ons trouens die kaartjies verdriedubbel; iets wat amper ongehoord is vir ʼn byeenkoms wat nou eers vir die tweede keer plaasvind,” het Ricardo Coetzee van Auto & General gesê.

Volgens Steven Louw, uitvoerende hoof van Steyn City Properties, is die spoglandgoed die perfekte plek om ʼn driekampbyeenkoms aan te bied. Daar is immers ʼn lagune van 300 m en ʼn bergfietsroete van 50 km, terwyl fikse langasems sover as 45 km kan draf.

Shaun Wolfaardt. Foto: Verskaf.

“Ons is trots op die feit dat ons inwoners vir 365 dae per jaar aan hierdie dissiplines kan skaaf. Die omgewing is boonop vry van verkeer en heeltemal veilig,” het Louw gesê.

Deelnemers wat nie in Steyn City woon nie kon ook vanjaar geleentheid kry om vir die byeenkoms in Steyn City voor te berei.

Magda Nieuwoudt, een van Suid-Afrika se heel beste driekampatlete, het vroeër in ’n onderhoud met Maroela Media gesê dat ’n driekamp eintlik baie soos die lewe is – opgee is hoegenaamd nie ’n opsie nie.

So indien jy jouself ʼn lekker fiksheidsuitdaging vir 2023 wil gee: Gaan swem, trap fiets en draf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.