Driemalige kampioen Victoria op Miami-wenpad

Victoria Azarenka in aksie in Miami. (Foto: X/WTA)

Victoria Azarenka, ʼn driemalige Miami-opekampioen, het die VSA se Peyton Stearns in drie stelle geklop om na die volgende ronde van dié gewilde ATP-toernooi deur te dring.

Die eindtelling was 7-5, 3-6 en 6-4 in die Belarussiese speler se guns en sy sal in die volgende ronde teen Qinwen Zheng van China te staan kom.

Azarenka, wat in 2009, 2011 en 2016 die silwerware in Miami omhoog gehou het, moes veral in die tweede stel bontstaan om die Amerikaner se vurige spel te tem.

Sy was egter weer in die beslissende stel op haar beste om die wedstryd in twee uur en 47 minute te beklink.

In die mansafdeling het Gael Monfils weer eens met sy akrobatiese spel beïndruk om Dusan Lajovic met 7-6 en 6-4 te klop.

Die 37-jarige Fransman het die horlosiewysers teruggedraai om met ʼn verdedigingsmeesterklas vorendag te kom. Sy flink voetwerk was die perfekte teenvoeter vir Lajovic se aggressiewe spel.

“Ek was gelukkig – ek dink ek was vandag net ʼn bietjie beter as Dusan gewees. Hy is ʼn baie goeie vriend, ons oefen gereeld saam en ons wedstryde sorg altyd vir baie opwinding,” het Monfils gesê.

Uitslae:

Roman Safiullin klop Diego Schwartzman met 6-2 en 6-4

Gael Monfils klop Dusan Lajovic met 7-6 en 6-4

Dan Evans klop Lorenzo Sonego met 1-6, 6-3 en 6-4

Felix Auger-Aliassime klop Adam Walton met 7-5 en 6-4

Matteo Arnaldi klop Arthur Fils met 6-3 en 6-4

Elena Rybakina klop Clara Tauson met 3-6, 7-5 en 6-4

Victoria Azarenka klop Peyton Stearns met 7-5, 3-6 en 6-4

Jelena Ostapenko klop Laura Siegemund met 7-6 en 6-4

Madison Keys klop Diana Shnaider met 6-2 en 6-4

Yulia Putintseva klop Liudmila Samsonova met 6-1, 4-6 en 6-3

Maria Sakkari klop Yue Yuan met 6-2 en 6-2

Anhelina Kalinina klop Caroline Wozniacki met 5-7, 7-5 en 6-4

Beatriz Haddad Maia klop Diane Parry met 3-6, 6-1 en 6-4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.