Druk ons ons jong sportlui te vroeg ryp?

Zola Budd verbeter die 5000 m-rekord twee maande na sy 19 geword het (Foto: Facebook Zola Budd)

Dis een van daardie debatte waaroor daar tot laatnag gestry word … word jong kinders te vroeg in sport ryp gedruk.

Dink maar terug aan een van ons grootste swemhelde Karen Muir van Kimberley, wat net 12 jaar, 10 maande en 25 dae oud was toe sy in 1965 die wêreldrekord in die 110 tree in Blackpool in Engeland laat spat het.

Sy het voortgegaan en 15 wêreldrekords verbeter.

Wat van Daryll Cullinan van Queenstown, wat net 16 jaar oud was toe hy sy eerste honderdtal in eersterangse krieket aangeteken het?

En wat van Zola Budd van Bloemfontein wat in 1984 op 17-jarige ouderdom die wêreldrekord in die  3 000 meter verbeter het?  Dis nie erken nie omdat Suid-Afrika uit wêreldsport uitgeskop was.

Budd het later in 1984 onder ʼn wolk van omstredenheid vir Brittanje aan die Olimpiese Spele deelgeneem. Onthou jy nog hoe Budd gekruisig is omdat sy die goue meisie van Amerikaanse atletiek, Mary Decker, op die Spele in Los Angeles (per ongeluk) gepootjie het?

Hoe kan enige jong mens sulke druk verwerk?

Ek het die voorreg gehad om al drie bogenoemde sportsterre te ontmoet (ek het Cullinan darem duisende lopies sien aanteken) en onderhoude met hulle te voer. As jong kinders wou hulle net swem, balle skop en slaan en hardloop.

Nie een sal (sou) hul kinders aan dieselfde druk wou blootstel nie.

Maar waar trek ʼn mens die streep?

Hoe anders sou Nadia Comaneci, die jong Roemeense gimnas wat as 14-jarige die Olimpiese Spele in 1976 Montreal  oorheers het deur ses  keer ʼn volmaakte punt van 10 te behaal, dié prestasie reggekry het?

En hoe anders sou die gholflegende  Ernie Els op 14-jarige ouderdom die junior Wêreldkampioenskap gewen het?

In Nieu-Seeland het en van die land se topskole, Mt Grammar in Auckland, besluit dat sy rugbywedstryde nie meer op televisie uitgesaai mag word nie, hoewel Sky TV dit reeds die afgelope agt jaar doen.

Mt Grammar is die sesde grootste skool in Nieu-Seeland, spog met 2 700 leerlinge en hy oorheers skolerugby. Die span was reeds in 1922, toe hy die eerste keer aan die liga deelgeneem het, aan die wenkant en was reeds 19 keer Auckland se kampioen. Mt Grammar was in 1938, 1982 en 2010 ook Nieu-Seeland se kampioenspan en het die afgelope agt jaar glo nog net drie keer verloor.

Die skool het die besluit reeds in 2009 geneem, want volgens die skoolhoof, Patrick Drumm (sekerlik ook die ouers en beheerraad), word daar te veel druk op die jong spelers geplaas.

“Wanneer jy jonk is, begaan jy ʼn paar foute, en dit is jou reg om ’n  fout te maak,” het Drumm gesê.

Besluit maar self of Drumm reg of verkeerd is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.