Du Plessis doen dit wéér in UFC-hok

Dricus du Plessis se vuiste het weer die praatwerk gedoen. Dié keer teen Derek Brunson. Foto: Twitter via UFC.

Teen hierdie tyd behoort Amerikaanse gemengdegevegskuns-liefhebbers al Dricus du Plessis se naam goed te kan uitspreek; hy haal immers gereeld die hoofopskrifte met sy spogvertonings in die Ultimate Fighting Championship (UFC).

Die Suid-Afrikaanse ster het vandag weer eens die pak dik aangemaak toe hy Derek Brunson in die tweede ronde van hul geveg in Las Vegas laat les opsê het.

Du Plessis is bekend vir sy suiwer slaanwerk en sy vuiste het ongetwyfeld weer die praatwerk in dié ronde gedoen.

Sy appelswaai-vaardighede het gesorg dat sy teenstander éérs steier en tóé val en dit was neusie verby vir die 39-jarige Brunson toe hy op die grond beland het.

Du Plessis se vuiste het geklap en veral een van sy linkerhoue het die Amerikaner hard getref; sy span moes noodgedwonge – net voor die einde van die tweede ronde – die handdoek ingooi.

Voor die dramatiese einde het Brunson goed in die eerste ronde vertoon. Hy het  die Suid-Afrikaner grond toe gebring en hard probeer om hom met ʼn paar grepe uit te oorlê.

Maar Du Plessis se veerkragtigheid is beslis een van sy sterk punte en hy is vinnig besig om ʼn reputasie in die UFC-hok te ontwikkel van iemand wat gevegte kán wen; maak nie saak hoe dinge vooraf gegaan het nie.

“Welkom by die topvyfvegters in jou kategorie!” het Joe Rogan (kommentator) hom na die afloop van sy tweestryd gelukgewens.

Hoewel Du Plessis duidelik in sy noppies met sy vertoning was, weet hy dat daar nog harde werk voorlê voordat hy sy uiteindelike doelwit kan bereik.

“Ek vier nie nou al fees nie. Ek wil die beste in die wêreld wees. Maar hierdie vertoning beteken so baie vir my en vir Suid-Afrika,” het hy gesê.

Die 29-jarige sportster, wat in Pretoria aan sy vaardighede slyp, het nou al vyf gevegte op ʼn streep in die UFC gewen.

Saaiman óók te sterk vir Martinez

Cameron Saaiman het ook te veel skietgoed vir Mana Martinez gehad en ná drie rondes is sy hand triomfantelik deur die gevegsbeampte in die lug gehou.

Die oudleerling van Hoërskool Garsfontein se veelsydigheid was uiteindelik die verskil tussen wen en verloor en ondanks die feit dat hy ʼn punt weens twee ongeoorloofde houe verloor het, het die beoordeelaars steeds in sy guns beslis.

Hy het egter ná die geveg onmiddellik vir die houe om verskoning gevra en gesê dat hy hoegenaamd nie as ʼn vuilspel-vegter bekend wil staan nie.

Rogan het onder meer gesê dat Saaiman tegnies baie korrek is en dat daar ʼn blink toekoms op hom wag.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.