Du Plessis doen dit weer!

Dricus du Plessis het met sy houe beïndruk. Foto: Carmen Mandato/Getty Images/AFP.

Dit was dalk ’n taaier geveg as sy eerste twee uitklopoorwinnings, maar Dricus “Stillknocks” du Plessis is steeds onoorwonne in die UFC-hok.

Die plaaslike gemengdegevegskuns-ster het vanoggend in die vroeë oggendure (Suid-Afrikaanse tyd) met Brad Tavares in Las Vegas afgereken.

Dit was net weer eens ’n bewys dat Du Plessis daad by woord kan voeg: Wanneer hy sê dat hy ’n geveg gaan wen, kan jy maar weet dat dit nie net sommer praatjies is nie.

Die ervare Amerikaner het dalk die eerste ronde oorheers – grotendeels omdat Du Plessis dalk ’n bietjie té hard probeer het – maar daarna was dit amperse eenrigtingverkeer in die oorblywende rondes.

Die Suid-Afrikaner het van strategie verander en sy vuishoue het onmiddellik die praatwerk begin doen.

En wanneer “Stillknocks” eers in só ’n bui is, is ’n uitklophou dikwels sy teenstander se voorland.

Maar hoewel Tavares gesteier het en die bloed so saam met die sweet begin spat het wanneer Du Plessis se houe hul merkie gevind het, het hy nie gaan lê nie.

Tog het die gevegsbeamptes bevind dat Du Plessis se houe die grootste skade aangerig het en hulle het eenparig beslis dat hy die geveg gewen het.

En al was die pad na sy jongste geveg vol hindernisse (lees ’n operasie en ’n paar teenstanders wat op die laaste nippertjie onttrek het), is die oorwinning beslis ’n tree in die regte rigting.

Hy is nou 12de op die ranglys en ’n titelgeveg kruip al nader vir die 28-jarige Suid-Afrikaner.

Du Plessis vier sy oorwinning. Foto: Twitter.

“Dit voel goed om vir almal te wys dat ek steeds ’n krag is waarmee rekening gehou moet word. Selfs al het die ander gevegte nie gerealiseer nie, het dit nie ’n invloed op my momentum gehad nie,” het Du Plessis ná afloop van die geveg gesê.

Hy het ook respek vir Tavares se vermoë om staande te bly.

“Brad is ’n gerekende teenstander en hierdie geveg het van sy taaiheid getuig. Maar elke keer wanneer ek in die hok klim, wil ek wen. Vandag het ek gewys dat ek aanpasbaar is en enige uitdaging kan hanteer.

“Ek is baie tevrede met my posisie op die ranglys, maar ek sal eers behoorlik feesvier wanneer ek die kampioen is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stofdonkie ·

Geluk aan Dricus met die oorwinning. Hy is duidelik ‘n mag om mee rekening te hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.