Een Binder eindig tiende; ander een gediskwalifiseer

Brad Binder vier sy oorwinning. Foto: GEPA Pictures/Daniel Goetzhaber.

Die Suid-Afrikaner Brad Binder (KTM) het weer in die kwalifiseringsrondes gesukkel en in die 19de plek weggespring by die Algarve MotoGP in Portugal. Soos hy ook gewoonlik doen, het hy deur die verkeer gevleg en ʼn paar ongelukke het ook gehelp om vir hom ʼn tiende plek te verseker.

Brad se broer, Darryn, was vierde, maar is toe gediskwalifiseer. Hy is skerp gekritiseer want hy was die een wat Foggia van die baan af gejaag het. Hy wou verskoning gaan vra, maar Foggia se span wou niks daarvan weet nie.

Francesco Bagnaia (Ducati) het vir die vyfde agtereenvolgende keer voor weggespring en die wedren gewen. Hy het daarmee ook sy tweede plek in die jaerskampioenskap verseker. Verlede jaar se wêreldkampioen, Joan Mir (Suzuki), was tweede en die Australiër Jack Miller (Ducati) derde.

Ducati het met die uitslag verseker dat hy die vervaardigerskampioenskap beklink.

Die nuutgekroonde MotoGP-kampioen, Fabio Quartararo (Yamaha), het vir die eerste keer hierdie seisoen nie ʼn wedren voltooi nie. Hy het geval met vyf rondes oor.

Die wedren is twee rondes te vroeg met ʼn rooi vlag gestaak nadat die KTM-jaers Iker Lecuona en Miguel Oliveira mekaar van die baan af gejaag het. Nie een van hulle is ernstig beseer nie.

Die 42-jarige legende Valentino Rossi was in die dertiende plek. Hy neem volgende Sondag in Valencia aan sy laaste wedren deel voordat hy uittree.

Die 17-jarige Spanjaard Pedro Acosta het die Moto3-kampioenskap beklink met ʼn oorwinning in Portugal. Die enigste jaer wat hom nog kon klop, die Italianer Dennis Foggia, het laat in die wedren geval.

Darryn gaan volgende jaar saam met Brad in MotoGP jaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.