Eerste swart ryer vir SA in Tour de France

Nicholas Dlamini. (Foto: Philippe LOPEZ/AFP)

Nicholas Dlamini sal die eerste swart Suid-Afrikaner word om aan die Tour de France deel te neem wanneer die prestigeryke fietswedren volgende week begin.

Die plaaslike Qhubeka Assos-span het die 25-jarige Dlamini vir sy Tour-span aangewys.

“Om gekies te word om in my eerste Tour de France te ry, is vir my ’n absolute droom wat bewaarheid is,” het Dlamini, wat drie jaar gelede professioneel begin gery het, gesê.

“Dit was vandat ek ’n kind was my droom en noudat ek op die punt staan om dit te beleef, voel dit onwerklik.”

Dlamini sal ook later vanjaar by die Tokio-spele in aksie wees en hoop om ’n inspirasie vir ander jong Suid-Afrikaners te wees.

Douglas Ryder, spanhoof van Qhubeka Assos, het gesê dit was ’n “ongelooflik spesiale” oomblik toe die span bekend gemaak is.

“Sy verhaal is eenvoudig ongelooflik en vir hom om hierdie geleentheid te verdien wys dat drome regtig waar word, en dat die span die geleentheid aan hom gebied het, maak my ongelooflik trots.

“Sy keuring tot die span spreek van alles wat hierdie span geskep en gebou het deur hoop, ’n geleentheid en uiteindelik die platform te skep om op die grootste verhoog van almal, die Tour de France, te wees.”

Die span sal sy sewende verskyning in die Tour de France maak sedert hul debuut in 2015 en spog tot dusver met sewe skofoorwinnings.

Die Amerikaner Sean Bennett (25) en die Belg Victor Campenaerts is ook deel van Qhubeka Assos se span en sal ook die eerste keer by die Tour de France in aksie wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.