Eeu-oue vegkuns van skerm

Berné Beukes, Jürgen Schröder, afrigter en eienaar van die Vrystaat Amateur Skermklub (VASK) en KovsieSkermklub wat op die kampus van die Universiteit Vrystaat bedryf word, en Miguel Ribeiro. (Foto verskaf)

Deur Susan Maré

En garde! Gereed! Skerm! Dít is waarskynlik in ʼn skermer se gedagtes voordat die realiteit en adrenalien inskop, die intense geveg begin en twee skermers se lemme sierlik, energiek en doelgerig deur die lug begin blits.

Skerm as vegkuns is naas atletiek, fietsry, swem en gimnastiek ʼn sportsoort waarsonder die Olimpiese Spele ondenkbaar is. Dit was van die eerste sportsoorte wat reeds van 1896 met Olimpiese status spog. Dié sportsoort groei steeds en dit is veral Europese lande soos Duitsland, Frankryk, Italië, Rusland, Hongarye asook Engeland waar dit wemel van skermers. Skerm is tans besig om ook met snelle skrede in Afrika te ontwikkel in lande soos Egipte, Nigerië, Uganda, Botswana, en vele ander. In Suid-Afrika neem belangstelling in die sport steeds toe.

Verbasend is dat skermwapens die tweede vinnigste bewegende voorwerp by die Olimpiese Spele is, naas die spoed van ʼn skut se koeël (marksman’s bullet).

Hierdie eeue-oue vegkuns tussen twee skermers is al in Antieke wêreld beoefen. Die eerste spore daarvan kan selfs so ver terug as 1190 v.C. nagespoor word. Daarvan is die eerste uitbeelding van swaardvegters met maskers op ʼn Egiptiese tempelreliëf by Medinet Habu naby Luxor ʼn getuie (sien foto). Op vele ander kunswerke word die gevegskuns se oorsprong verbeeld.

Berné Beukes (regs) in aksie teen ‘n opponent. (Foto verskaf)

Soos wat die eeue verloop het, het die latere ontwikkeling en invloed van die swaardkuns daartoe gelei dat dit ʼn sport geword het. Dit was veral Italiaanse en Franse skermskole wat in hierdie ontwikkeling ʼn belangrike rol gespeel het.

Vandag is Skerm in Suid-Afrika ʼn gerekende sport en is daar landwyd sowat 35 klubs onder die beskerming van die Fencing Federation of South Africa (FFSA). Skermers neem jaarliks nasionaal sowel as internasionaal, met groot sukses, aan kampioenskappe deel.

Een van die prestige klubs van die FFSA is in Bloemfontein. Die Vrystaat Amateur Skermklub (VASK) – en KovsieSkermklub wat op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat onder die vlerk van Jürgen Schröder is, het ʼn lang geskiedenis van afrigting. Harald Schröder, Jürgen se vader, het die klub in 1954 gestig en in 2012 as afrigter en eienaar uitgetree. Harald se seun, Gunter, het die klub by hom oorgeneem as eienaar en afrigter tot in September 2021 waarna Gunter se broer, Jürgen, die eienaar en afrigter geword het.

Volgens Jürgen staan skerm baie sterk in Suid-Afrika en is daar toenemend groei en belangstelling. Omdat dit nie ʼn spansport is nie, lok dit uiteraard nie baie toeskouers of selfs borgskappe nie. Die sportsoort word net tydens groot internasionale kompetisies gebeeldsend. Die blootstelling van die sport deur die media, sosiale media asook die beeldsending van kompetisie op televisie se sportkanale sal sekerlik bydra tot die sport se verdere groei.

Skerm is ʼn sport vir flink- en vlugvoetiges wat blitsvinnig kan reageer en in ʼn breukdeel van ʼn sekonde besluite moet neem in aanvalle of verdediging. Hulle moet rats wees en slim kan dink en antisipeer. ʼn Positiewe ingesteldheid en die wil om te skerm en te wen is die onsigbare wapen waarmee die skermer sy opponent kan troef.

Miguel Ribeiro (regs) in aksie teen ‘n opponent. (Foto verskaf)

Die drie wapens in skerm is die Sabel (teikenarea: bolyf, arms en kop ingesluit; kap- en steekwapen), die Degen (teikenarea: hele lyf, kop, arms en bene; slegs ʼn steekwapen en as tweegevesgswapen/dual gebruik) en Floret (teikenarea: slegs torso, sonder arms en kop en bene). Elke wapen het sy unieke skermstyl. Met die Floret moet maksimum 500 g druk uitgeoefen word teen die opponent om ʼn punt te registreer. Die Degen se drukkrag is 750 g. Die geveg vind plaas op ʼn piste (skermbaan) van 14 m lank by 1,5 m tot 2 m breed.

Skermers dra spesiaal-ontwerpte uitrustings, asook maskers volgens standaarde van die Federation Internationale D’Escrime (FIE).

Op die piste is elke aanraking in ʼn geveg een punt werd. ʼn Geveg is maksimum nege minute lank, verdeel in drie periodes van drie minute – met ʼn pouse van een minuut tussen periodes. Indien die derde periode voltooi word voordat enige van die skermers 15 punte bereik, word die skermer met die meeste punte as wenner aangewys.

Elektroniese toerusting word gebruik om punte te bepaal. Die toerusting is aan die skermer verbind met ʼn kabel wat elke suksesvolle punt aanteken op die elektroniese telbord.

Skerm is ʼn sport waarby die hele liggaam betrokke is en die intellektuele strategie wat dit vereis om suksesvol te veg, word dikwels met ʼn skaakspel vergelyk.

Miguel Ribeiro (regs) teen ‘n opponent. (Foto verskaf)

Volgens Jürgen beoefen die skermer verskeie tegnieke van aanval of verdediging. Dis nodig om die opponent se skermstyl, lyftaal en sterk en swak punte tydens ʼn geveg op te som en daarvolgens strategies te skerm. Die vermoë om ʼn fout blitsvinnig te herstel is ook belangrik.

Voorts moet die skermer selfgedissiplineerd, vinnig denkend, sielkundig sterk en toegewyd wees. Fiksheid is belangrik en oefening is veral nodig om sterk bene en ʼn goeie hand-en-oog-koördinasie te ontwikkel. Dit is voordelig om ʼn hoë kardio-oefenprogram te volg.

Wat die sport wonderlik maak is dat dit ʼn veilige sportsoort is wat van die ouderdom van sewe tot sewentig plus jaar beoefen kan word. Dissipline en reëls word tot op die letter toegepas.

Skerm word in Suid-Afrika nie op skolevlak nie maar hoofsaaklik by privaat klubs wat die sport ontwikkel beoefen.

Twee uitblinkers van VASK in 2022 is Berné Beukes en Miguel Ribeiro van onderskeidelik die Hoërskole Sentraal en Fichardtpark in Bloemfontein. Hulle het onder meer al deelgeneem aan die Afrika-kampioenskap in Lagos in Nigerië, die Statebondspele 2022 in Londen, die Oos-Kaap Ope-kompetisie (Gquberha), die Vrystaat Ope-kompetisie (Bloemfontein) en die SA Junior Nasionale Kompetisie (Pietersburg, Polokwane). Beukes is ook uitgenooi om deel te neem aan kampioenskappe in Dubai, Casablanca (Marokko) waar sy vir die kampioenskap in Kaïro (Egipte) moes kwalifiseer. Nog ʼn skermer van VASK wat spog met internasionale deelname is Reinier Veitch. Verskeie skermers van VASK beklee gunstige posisies op die nasionale skermranglys van FFSA.

Jürgen is positief oor die toekoms van skerm.

“Die belangstelling in ons sport neem ongetwyfeld toe. Dit is egter ʼn groot uitdaging om borgskappe vir begaafde jong skermers, soos Berné en Miguel, te vind. By VASK werk ons hard om ons vader Harald se erfenis voort te sit en die sport te bevorder.

“Skerm is ʼn eeue-oue kuns wat nooit uitgesterf het nie. Danksy Olimpiese status en steeds groeiende sport sal dit ook nooit.”

Kontak Jürgen Schröder vir meer inligting by 081 409 4780.

Kyk hier na ‘n video van skerm as vegkuns:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.