‘Ek is uitgeput’

Ashleigh Barty het haar tennisuittrede aangekondig. Foto: Brenton Edwards/AFP.

Skaars twee maande nadat Ashleigh Barty die Australiese Ope-titel in Melbourne gewen het, het sy haar tennisuittrede aangekondig.

Die Aussie-ster is net 25 jaar oud.

“Vir my beteken sukses dat ek my absolute beste op die baan gelewer het. Ek is tevrede en ek weet hoe hard ek in my loopbaan moes gewerk het,” het Barty in ’n videoboodskap op sosiale media gesê.

Toe sy vroeër vanjaar vir Danielle Collins met 6-3 en 7-6 geklop het, was sy die eerste Australiese vrouespeler in 44 jaar om met die Grand Slam-silwerware in Melbourne weg te stap.

Benewens haar Australiese Ope-sukses het sy onder meer ook die silwerware op die kleibane van Parys en die grasbane van Wimbledon omhoog gehou.

O ja, dan is sy ook die voorste vrouespeler ter wêreld; ’n posisie wat sy 121 weke lank beklee het.

“Ek beskik net nie meer oor die fisieke dryfkrag en die emosionele begeerte om myself op die groot verhoog uit te daag nie. Ek is uitgeput.”

Sy het in die video erken dat sy al verlede jaar haar uittrede oorweeg het nadat sy Wimbledon gewen het.

Australië se Ashleigh Barty vier haar oorwinning op Wimbledon. (Foto: Adrian Dennis/ AFP)

“Dit was my groot tennisdroom om Wimbledon te wen en ek dink my sege daar het my perspektief baie verander. Ek het lang gesprekke met my ondersteuningspan gehad, maar ek was steeds nie heeltemal gereed om tot siens te sê nie.”

Volgens Barty was haar sege in die Australiese Ope die perfekte manier om die tenniswêreld te groet. Die sport het immers soveel vir haar beteken.

“Tennis het ongetwyfeld vir my drome vlerke gegee. Ek weet egter dat die tyd nou reg is om ander drome na te jaag en my raket weg te bêre.”

Die nuus van haar skokuittrede het soos ’n veldbrand versprei en sedertdien stroom die huldeblyke op sosiale media in; sy was immers ’n uitstekende en gewilde speler.

Scott Morrison (Australië se eerste minister) het gesê dat Barty se prestasies vir altyd gevier sal word.

“Dankie, Ash, jy het ’n ganse land geïnspireer. Namens alle Australiërs wil ons vir jou en jou verloofde (Garry Kissick) alle voorspoed toewens,” het Morrison getwiet.

Een van die wêreld se voorste vrouespelers, Karolina Pliskova, beskou dit as ’n voorreg om teen Barty te kon speel.

“Jy het ’n ongelooflike loopbaan agter die blad, Ash. Sterkte met die volgende hoofstuk van jou lewe, ons gaan jou baie mis,” het die Tsjegiese ster gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.